Wellington se eens glorieryke musiekverlede onthou
2010-08-05
Christine Siebrits
MAGGIE WAGENAAR (voormalige musiekdosent aan die Wellington Opleidingskollege) het onlangs haar nostalgiese herinneringe van WOK se musiekkringe met die Dames 18 Klub van Wellington gedeel. Wellington se ryke en indrukwekkende musiekverlede kan teruggevoer word na die stigting van die Hugenote Seminarie deur dr Andrew Murray in 1873. Reeds in 1880 en daarna verskyn die name soos Dirk de Villiers en Rocco de Villiers in die musiek-annale van die NG Moedergemeente op Wellington. Musiekuitvoerings is kwartaalliks in die Goodnow Saal gehou en ’n bloeitydperk van koorsangkompetisies het gevolg ná die koms van dr HW Egel. Hy was dan ook die komponis van die Hugenote Seminarium se skoollied, “Strong are the Mountains about us”. In 1922 is Adrienne Edith Rolland (later Joubert) aangestel as orrelis van die NG Kerk. Sy dra grootliks by tot die musieklewe van Wellington, en is verantwoordelik vir die eerste optrede van die Kaapse Simfonie-orkes buite Kaapstad. Adrienne Joubert stig die “Choral Society” wat gereeld groot werke opvoer. Die musikale klem van die seminarie het geleidelik na die Wellingtonse Opleidingskollege verskuif. Die aanstelling van AW Davies (tweede hoof van die Kollege) het koorsang laat lewe. Hy het voorsiening gemaak vir ’n vaste sangperiode op Vrydagoggende en aan die einde van die jaar is ’n sangfees gehou waaraan al die studente moes deelneem. Hierdie jaarlikse tradisie het vir baie jare gegeld. Ander groot name aan WOK was persone soos PJ Lemmer, John Enslin, Bennett de Lange, Jacobus Bouwer, Faure Loots en ook Maggie Wagenaar. Bennett de Lange, Jacobus Bouwer, Maggie Wagenaar, Louisa Marais en Alta Visagie het gereeld as soliste by musiekopvoerings opgetree, terwyl die begeleiding op die orrel en klavier deur Faure Loots en Susan Badenhorst gedoen is. Vele byeenkomste het gevolg en die operettes wat opgevoer is was veral baie gewild. Reeds vanaf die stigting van die Seminarie in 1874 is deeglike musiekonderrig hoog op die prioriteitslys van die opvoedkundige inrigtings in Wellington. Hierdie tradisie het voortgeleef en toe die Kollege sy 50ste bestaansjaar in 1946 vier, was daar reeds vyf musiekdosente in die personeel. Die musiekdepartement het van krag tot krag gegaan, veral onder die bekwame leiding van Adrienne Joubert en Dolce Retief. Behalwe vir onderrig in sang, orrel en klavier het die kursus so ontwikkel dat studente hul as instrumentaliste kon bekwaam. WOK was die enigste kollege in Kaapland wat met ’n musieklaboratrium kon spog (1981). Tot 1945 was dit Unisa se beleid om slegs eksaminatore van oorsee vir praktiese eksamens aan te stel, maar teen 1957 was drie van Unisa se personeel van 18 eksaminatore uit die personeel van WOK, naamlik Adrienne Joubert, Dolce Retief en John Enslin. Afgesien van hierdie musiekkringe was daar ook die boere-orkes van Imker Hoogenhout, en verskeie koffiehuiskonserte is vanuit Wellington en ook op die plaas Optenhorst aangebied. Daar was ook hul programme Bloekombossie en Jakkalsfontein wat baie gewild was tussen 1945 en 1950. Van al die musiekverenigings op Wellington is dit nog net die Klopse wat werklik aktief is. Wellington spog met nie minder nie as 15 klopsegroepe. Ongelukkig met rasionalisasie en transformasie en alles wat daarmee gepaard gaan, het Wellington se bloeiende musiek-era amper tot stilstand gekom. Hoe jammer tog!
More
News
|