Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Eugene Marais herleef in die Paarl

Eugene Marais herleef in die Paarl
 
2010-08-12

Lise Beyers

NOG ’n juweel word voorspel vir die Paarl, met die beoogde inrigting van Hoër Jongenskool se Eugene Marais-kampus.

Hierdie bekende skrywer het in 1887 gematrikuleer aan die voorloper tot Boishaai, die Paarl First Class Public School, wat in Lawaaimakerstraat, gevestig was.

Hierdie skooltjie is in 1868 gestig en is eers gehuisves in ’n pakhuis langs Zeederbergplein. Later het dit verskuif na ’n huis op Kerkplein, vandaar na ’n gebou in Zionstraat, voordat dit vanaf 1876 tot Junie 1900 gehuisves is op Rozenfontein in Lawaaimakerstraat.

En hier het Marais sy vormingsjare deurgebring wat sonder twyfel bygedra het tot sy merkwaardige nalatenskap. Sy eerste gedigte is hiér geskryf en toe reeds gepubliseer in Het Paarl District Advertensieblad.

Die ou skoolgebou maak nou deel uit van die Zomerlust-landgoed wat in 1991 deur die Du Toit-familie Trust aangeskaf is.

Die idee van ’n Eugene Marais-kampus is die geesteskind van Eugene Marais-geesdriftige, en grafiese ontwerper, Heini Kotze.

Kotze het deur middel van navorsing op die versteekte ou skoolgeboutjie afgekom wat nou gebruik word as kantore vir Zomerlust, net onderkant die Paarlse Hoofstraat.

Hy het ’n visie gesien vir die geboorte van ’n sentrum wat toegewyd is aan die vele werke en talente van Marais en het belanghebbende partye genader om nuwe lewe in die perseel in te blaas.

“Hoër Jongenskool was van die staanspoor af baie opgewonde om die nalatenskap van Marais te laat herleef, asook sy verbintenis met dié skool.

“En die mede-eienaar van Zomerlust, Niël du Toit, wou nog altyd iets met dié historiese perseel doen, en hiér is die geleentheid nou.”

Die perseel sal deur Boishaai gehuur word van die Du Toit-familie-Trust en die skool sal verantwoordelik wees vir die restourasie en inrigting daarvan.

Die Eugene Marais-kampus sal daarop gemik wees om opvoedkunde te bevorder met Marais as onderwerp.

Nie net was Marais se bydrae tot Afrikaanse letterkunde dramaties nie, maar hy was ’n gesoute joernalis en natuurwetenskaplike. Al hierdie aspekte van Marais se roemryke loopbaan sal vasgevang word in die Eugene Marais-kampus.

Nie net sal die kampus tot beskikking van Boishaai-leerders wees nie, maar daar word beoog om die perseel deel van die Afrikaanse geskiedkundige roete van die Paarl te maak.

Die kampus sal homself leen tot lesings, poësievoorlesings, musiekopvoerings, storievertellings, boek-vrystellings en velduitstappies.




More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za