Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Die trek na Vaalstasie

Die trek na Vaalstasie
 
2010-08-26


IN die 1960’s het die mense van Parkstraat, Wellington, almal in hulle buurman Gamat Adam se huurhuise gewoon. Onder hulle was die Martins, die Smalls, die Cupido’s, Fortuins en Allies.

Op ’n dag laat Oom Gamat – soos almal hom geken het – weet dat hulle huise gesloop gaan word en hulle sal moet trek. Dit was 1967. Markstraat het die skeiding geword tussen wit Wellington en bruin Wellington, en volgens die apartheidswetgewing, moes bruinmense uit Wellington se “voordorp” verskuif word.

Een vir een het Sampie Samson hulle trek kom haal. Maar waarheen? Die munisipaliteit se huise was nog nie almal gereed nie.

Van die gesinne het vir ’n tyd rondgeswerf en by vriende en familielede in huise in Versailles-, Wes- en Pentzstraat gewoon. Maar hierdie strate se huise is ook geoormerk vir sloping.

Iris Claassen se verhaal is een van baie soortgelykes. Hulle was van die eerste gesinne om te trek. Eers het hulle by ’n familielid in Heathfield in die Kaap gaan woon, toe kom hulle terug Wellington toe om in ’n kamer in Versaillesstraat te bly.

Almal kon nie inpas nie, en twee van die kinders is by ander mense uitgeplaas. Eers later het haar ma ’n huis in Cavernelisstraat gekry.

Die meeste van die mense van Parkstraat is verskuif na ’n nuwe aanleg tussen Cavernelis- en Klaassenstrate. “Vaalstasie” het mense die plek genoem, omdat die laaste huise van sementblokke gebou is.

Die huise is nie afgewit nie, het nie vloere gehad nie en ook nie plafonne nie. Intrekkers vertel dat hulle selfs boomstompe uit die huise se vloere moes uitkap.

Fomo-lite het hulle by Bakke gekoop om goedkoop plafonne te maak. So vertel die mense wat in die 1960s in Parkstraat gewoon het.

Hulle vertellings word by die Wellington museum opgeneem. Die Om-die-tafel-storieprojek is ’n poging om die geskiedenis van mense wat deur apartheidswetgewing hulle huise moes ontruim het, op te skryf.

Die meeste mense om die tafel was kinders in die 1960s, en hulle herinnering van die tyd is dié van kinders: van toustaan vir middag-vertonings by die Palazzo bioskoop om vir die cowboy Roy Rogers en sy palomino-perd Trigger te kyk.

Hulle ouers se huise in Parkstraat het ’n gemeenskaplike “yard” gedeel waar daar ook gemeenskaplike toilette en ’n kraan was. In die somer het almal buite in die “yard” geslaap - ma’s, pa’s en kinders.

Dit was die dae van Wellington se sanggroepe: die Night Birds, Planets, Teenage Wonders en van die Paarl, die Harmony Crooners.

Die groepe het gewoonlik uit nie meer as agt mans bestaan nie, het sonder begeleiding gesing en het elke jaar in die stadsaal teen mekaar gesing in ’n kompetisie.

Dougie Martin is vandag ’n afgetrede man, maar as 12-jarige seun het hy ook in hierdie “troepe” gesing.

“As ons so teen mekaar sing – Own Choice en ook die voorgeskrewe lied. Dan moet jy uithaal en wys,” vertel hy.

Hierdie liefde vir optree en die verhoog kan Philida Titus ook goed onthou.

“Ek was toe nog baie klein, maar ek onthou hoe Basil Martin ons afgerig het. Saterdagaande het hy mudsakke gevat en ’n verhoog gepak met kissies. Dan moet ons staan op die kissies en sing of dans. Ons het selfs ballet gedoen.

“Heel week het ons so geoefen. Saterdagaande kom die grootmense na ons konsert, dan moet hulle betaal, ek dink dit was ’n sent of twee. Agterna het ons lekkergoed daarmee gekoop.”

Christiaan Small onthou hoe hulle as kinders gespeel het: skelulu en bok-bok-staan-styf. En “kites” gevlieg wat Oom Japie Skewebek gemaak het. Gate in Nespray-blikke gekap om lanterns te maak.

Geelwal was die plek waar die kinders skelm-skelm gaan swem het. Die swemgat was aan die anderkant van die treinspoor, op ’n plek waar die Bergrivier ’n skerp draai gemaak het. Dit was ’n gevaarlike swemplek, diep aan die eenkant, met geel kleiwalle. Onder die water was die sandbanke bedrieglik, want as die rivier afgekom het, het hulle geskuif.

“Geelwal was die ideale swembad,” vertel Christiaan Small. “Dit was ons plek.

“Ma het ’n manier gehad om na ons te kyk. As jy in die rivierwater geswem het, het jou vel so vaal getrek. Sy het altyd geweet jy het in die rivier geswem . Dan het jy darem ’n pak gekry!”

Almal is dit eens, as dit kon, sou hulle enige dag weer in Parkstraat wou woon.

Soortgelyke gesprekke met mense wat onder andere in Verlatekloof, Die Koeikraai, Die Gat en Keeromstraat gewoon het, sal ook deur die Wellington Museum opgeneem word.




More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za