Is dit vleiland of nie?
2005-09-29
Malané Bosman
DIE ontwikkelaar stoot die rietbos uit en maak die grond kaal en dan doen hy aansoek vir ontwikkelingsregte, want dan kan daar nie gesê word dis ’n vleiland nie.
So voel baie inwoners van Wellington, en gefrustreerde eienaars van erwe wat grens aan die Leeuwrivier in Wellington-Oos.
Verlede week het belangstellendes in Berg-en-Dalstraat vergader terwyl swaar masjinerie onverpoosd die nat kleigrond vir ’n pad gelyk gestoot het, en die vleiplantegroei in swart moddergrond omgedolwe het.
Saam met woordvoerder Frank Badenhorst het die groep die terreinbestuurder gevra om die tekeninge van die beoogde ontwikkeling tussen die APK-kerk en die spruit te verduidelik.
Verteenwoordigers van die Departemente Waterwese, Bosbou, en Landbou, asook parlementslid Pierre-Jeanne Gerber, was saam met die inwoners bekommerd oor die beweerde onwettige ontwikkeling van ’n vleiland.
Bure was ook ontstoke omdat hulle nie ’n kans gegun is om beswaar aan te teken voordat die grond gelyk gestoot is en die rivieroewer ontbos is nie.
“Ons het van niks geweet totdat die stootskrapers hier opgedaag het nie,” het inwoners gemor.
Die ontwikkelaar, Henk Smit, was nie beskikbaar vir antwoorde nie.
Twee uur ná die vergadering Donderdag is die masjinerie verwyder. Badenhorst is tevrede. Die ontwikkeling is gestaak.
“Dit is ’n onwettige ontwikkeling. Daar is geen ontwikkelingsregte toegestaan nie en die ontwikkelaar moes eers daarvoor aansoek gedoen het.
"Maar wat gaan hy nou maak? Daar is sprake dat hy 'n winkelsentrum wou psit.
“Dis wonderlik hoe die gemeenskap beheer neem oor dinge wat hul aangaan, almal met dieselfde doelwit, om te keer en te red.”
Henk Smit is ewe gefrustreerd:
“Ons het ’n gesoneerde stuk grond gekoop en dit skoongemaak.
"Ons het nie aansoek gedoen vir die ontwikkeling nie, want ons ontwikkel nie, ons maak die grond skoon.
“Ons is in goeie samewerking met Waterwese en Bosbou terwyl daar vasgestel word of dit wel ’n vleiland is.
“As die mense ’n ‘wetland’ wil hê, hoekom koop hulle dit dan nie by my nie?
“Ek weet nie wat ek met die grond gaan doen nie, miskien plant ek wingerd.
“Nee, eintlik dink ek ek sal 3000 hawelose mense daar huisves in plakkershutte. Dan kyk ons wat sê die mense.”
* Wellington residents are up in arms about bulldozing by a developer.
More
News
|