Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Voorvatter by Silwerkruin

Voorvatter by Silwerkruin
 
2005-09-29


VIR die eerste keer sedert die 1970s, toe Silwerkruin-ouetehuis op Wellington geopen is deur die ACVV, is daar ‘n voltydse bestuurder aangestel om die dag-tot-dag administrasie, finansies, fondswerwing en personeelsake van hierdie tehuis vir bejaardes te bedryf.

Bettie Smit, ‘n maatskaplike werker van beroep wat ook twaalf jaar op die munisipale raad van die Paarl gedien het, het in Mei die leisels oorgevat by dié tehuis vir bejaardes in Fonteinstraat.

Dié Paarliet, wie se onderwys- en kultuurman Jean steeds op die Drakenstein stadsraad dien, het lof vir die bestuursrade van Silwerkruin wat oor die jare heen deur ‘n onbaatsugtige bestuursraad bestaande uit knap vrywilligers en verskeie matrones gedryf is.

“Veranderende tye, groter wetlike verantwoordelikhede ten opsigte van arbeid en die insameling van fondse het bygedra tot die besluit om ‘n voltydse bestuurder aan te stel,” verduidelik Bettie.

Sy hoop om saam met die bestuursraad en personeel ‘n veilige woonplek en die beste moontlike versorgingsfasiliteite te kan verskaf vir veral verswakte bejaardes uit die omgewing.

Daan Morkel is die huidige voorsitter van die Silwerkruin beheerraad.

Die Bybel sê yster slyp yster, en soos met enige verandering en vernuwingsproses is daar maar die aanvanklike groeipyne.

Nietemin is Bettie, ‘n voorvatter van formaat, optimisties en geïnspireerd om die 123 inwoners van Silwerkruin en hul families te ondersteun.

Sy was nie verniet op haar dag die Wes-Kaapse voorsitter van Dames Aktueel, fondswerwer vir Radio Kansel en in die tagtigerjare ook die nasionale Departement van Gesondheid se eerste gemeenskapsontwikkelingsbeampte in die Wes-Kaap nie.

Al is sy meer bekend in die Paarl, was sy ook al op Wellington werksaam, waar sy praktykbegeleiding vir maatskaplike werkers aangebied het by Hugenote Kollege.

Vroeg in haar loopbaan het sy op ‘n aflosbasis by Huis Vergenoegd in die Paarl gewerk, en was ook daarby betrokke aangesien haar ouers daar inwoners was.

Sy sê die ervaring wat sy veral as stadsraadslid in die Paarl opgedoen het, is vandag vir haar waardevol in die hantering van die tehuis se finansies, asook vergaderingprosedures.

Sy was van kleins af geïnteresseerd in die politiek, en was as maatskaplike student op Stellenbosch voorsitter van die Afrikaanse Studentebond se vroue-komponent.

Toe sy in die laat tagtigs die eerste keer gestaan het in die Noorder-Paarl wyk, het sy die tweedemeeste stemme van al die kandidate getrek - iets waarop sy vandag nog trots is.

Sowat vyf jaar gelede het dié beroepsvrou besluit om “af te tree” om op 55-jarige ouderdom die laaste skooljare van haar laatlamdogter Eunice, saam te beleef.

Toe dié vanjaar universiteit toe is met haar visier daarop ingestel om stads- en streeksbeplanner te word, het Bessie begin uitkyk vir ‘n volgende uitdaging, want stilsit en handjies vou kan dié korrekte vrou met haar wortels in Springs beslis nie.

Al is daar kleinkind Liam (spruit van dogter Jeanine en wynmaker-skoonseun Ryan) wat dié ouma beslis goed besig kan hou.

“Ek’t gedink ek wil ‘n gastehuis begin, of iewers bestuurder van ‘n organisasie wees,” vertel dié 60-jarige. “En nou bedryf ek ‘n reuse-
gastehuis,” lag sy saam.



More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za