Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Manie en Winnie Rust vereer

Manie en Winnie Rust vereer
 
2005-09-29

Engela Duvenage

ELKE dorp het sy handjievol aristokratiese families - belese en berese mense wat met grasie, mensliewendheid, leierskap en integriteit besonderse spore trap in ‘n gemeenskap, en andere met hul talente aanraak.

Dr Manie Rust en sy vrou Winnie, wat pas deur die plaaslike Rapportryerskorps aangewys is as Wellingtonners van die Jaar, is gewis so ‘n egpaar vir dié dorp.

Albei het hier grootgeword, gewoon en gewerk en het oor baie jare elk op hul eie manier ‘n groot rol gespeel om Wellingtonners sensitief te maak vir die mooi dinge in die lewe en die geskiedkundige omgewing waarin die dorp geleë is.

Waar dr Manie voorskrifte uitskryf en ‘n groot belangstelling in die kunste, natuur en musiek het, is Winnie weer die een vir die geskrewe en gesproke woord.

“Ek glo darem ons belangstellings het wedersyds afgevryf,” vertel Winnie.

“Ja, ons belangstellings deel beslis dieselfde `vibe’”, verduidelik dr Manie.

Hy was ‘n baanbreker in die bewaring van Wellington en ‘n dryfkrag agter die stigting van die Wellingtonse Bewaringsvereniging, die voorloper van die huidige Estetiese Komitee.

Onder sy voorsitterskap het Wellington ‘n pionier vir bewaring in die land geword.

Danksy sy vertoë as voorsitter is die ouer deel van die dorp in 1986 tot ‘n sensitiewe bewaringsgebied verklaar deur die destydse Administrateur van Kaapland - die eerste dorp in die land om tot dié stap oor te gaan.

Winnie, weer, het die geskiedenis van die dorp en distrik help boekstaaf as deel van ‘n projek deur die plaaslike museum. Hiervoor het sy hoofstuk 25, Verhale van Wellington, geskryf.

As deel van ‘n familie van skrywers het sy al heelwat verhaalbundels saamgestel met stories oor Wellington, sy mense en Bainskloof, en het sy onder meer gehelp met Charlotte Cupido se “Vra na die ou paaie”. As gereelde Paarl Post rubriekskrywer delf sy telkens interessanthede oor die dorpsgeskiedenis op.

Dr Manie het sestien jaar lank gedien as voorsitter van die Wellington Museum se Trusteeraad. Winnie se verbintenis van byna ‘n dekade as sekretaresse van die Vriende van die Museum het grootliks oorvleuel met sy voorsittersjare.

Tans is hy nog trusteeraadslid van die Breytenbach Sentrum, wat hulself beywer om die Breytenbach-huis Grevilleas in ‘n
kultuursentrum te omskep.

Dr Manie se passies lê by die kunste en klassieke musiek, al het hy nooit homself daarop toegelê om die viool ten volle te bemeester nie.

“Net totdat die hond gekerm het,” was hoe lank hy kleintyd met sy lesse volgehou het.

Dr Manie was die mede-stigter en voorsitter van die Wellingtonse Kunstevereniging in 1981.

Hierdie oorkoepelende rol het gehelp om die drade tussen die Damesklub en verenigings vir fotografie, beeldende kunste, musiek en drama nouer saam te trek, en het gesorg vir ‘n herlewing in dié kultuurbedrywighede in die Goodnow-saal vir ongeveer tien jaar.
Hieruit het die Dietmann-klavierkompetisie ontstaan, wat vandag bekend is as die Hennie Joubert Klavierkompetisie.

Die stigtingsvergadering van die Wellington Rapportryerskorps 40 jaar gelede het in hul huis plaasgevind, en hy was ook ‘n stigterslid van die Daljosaphat Kunstevereniging.

Winnie, ‘n oud-hoofmeisie van Hugenote Hoër met onderwysbloed wat in haar are vloei, se wysheid is weer goed ingespan op talle skoolkomitees en die Wellington Onderwyskolgeraad.

Albei is groot ondersteuners van inisiatiewe soos Wellington se eie Klopse en die Dahlia- en Kristanteverenigings.

Dr Manie het vir meer as 40 jaar as geneesheer op Wellington prakseer, en is alombemind vir sy opregte belangstelling in die breë gemeenskap van Wellington.

So was hy onder meer voorsitter van die Wellington Verhoudingskomitee wat die aanvoorwerk vir die gewilde kampterrein Antoniesvlei net buite die dorp gedoen het.

Dié egpaar is nie mense wat kan stagneer nie. Al reken hul dogter Helena dat 73 die regte ouderdom is vir haar pa om die viool beter te leer bemeester, en al het hy met ywer meer begin lees sedert hy sy praktyk opgegee het, het dr Manie verlede jaar weer begin aflos by Paarlse dokters - iets wat hy “baie intellektueel stimulerend” vind.
Winnie weer, het ‘n paar jaar gelede op 58-jarige ouderdom haar meestersverhandeling in letterkunde met groot sukses voltooi.

“Dit was net die nodige inspuiting om weer nuut en vars daaroor te dink,” vertel Winnie, wat ook ‘n gewilde en boeiende spreker is en talle Bybelstudiegroepe op die been gebring het.

Dié stigterslid van die Wellingtonse Besprekingskring en die Afrikaanse Leeskring, waarvan sy meer as tien jaar die dinamiese voorsitter was, het danksy hierdie “inspuiting” die Literaprys vir debterende skrywers twee keer ontvang - in 1999 vir Queen Elizabeth en in 2001 vir Trek aan jou klere, Boeta.

Dié “binnekamerwerker van die geskrewe woord” is ook skrywer van talle tiener- en vrouedagboeke en kortverhale.

Dit is veral met haar geskiedkundige roman, “Martha, ‘n verhaal van Martha Solomons, Countess of Stamford", wat in 2004 verskyn het en die ware verhaal vertel van ‘n eenvoudige Wellingtonse vrou wat met Harry Grey, die graaf van Stamford getrou het, waardeur sy nou veral buite die Bolandse grense as ‘n skrywer naam maak.

Die boek was vanjaar een van twee finaliste vir Rapport se Jan Rabie-prys vir nie-fiksie.

Albei se families is amper nog groter deel van die dorpsgeskiedenis as hulle twee saam. Mense wat hulle nie ken nie, maar net hul vanne hoor, raai reg dat hulle ‘n verbintenis het met die persoon na wie Laerskool Hugo Rust vernoem is.

Dr Manie se pa, Hugo, was rektor van die destydse opleidingskollege, en is opgevolg deur Winnie se pa, CP van der Merwe, na wie die Kollege-saal vernoem is.

Dié gedeelde verbintenis van ouers wat dieselfde belange gedeel het, is egter nie die rede hoe hulle by mekaar uitgekom het nie.

“Ek was al bewus van Winnie vandat sy só klein is,” vertel dr Manie en dui met die hand die hoogte van ‘n opgeskote dogter aan.

Dit was in sy huisdokterjaar hier ter plaatse, toe Winnie as proefonderwyseres vir ‘n kleinerige prosedure ‘n draai by die dokterspreekkamer moes maak, dat hulle gekliek het.

Die egpaar is in 1961 getroud, en is in Winnie se woorde by die ontvangs van die Wellingtonner-toekenning “al 44 jaar kamermaats”.

Hulle vier kinders is tans oor die uithoeke van die aarde versprei - Hugo in die VSA, Winnie in Ierland, Grietjie in Holland en Helena in Suid-Afrika.

Oor die toekenning self is hulle beskeie, maar dankbaar vir die erkenning deur hul dorpsgenote.

“There is no limit to what a man can achieve if he doesn’t care who gets the credit,” haal dr Manie sy lewensmotto aan - ‘n gesegde wat eens in die plaaslike museum te sien was.

“Hier sal hulle my met spinnerakke oor my voete moet uitdra as hulle my wil wegkry,” lag dr Manie wanneer die gesprek draai na die moontlikheid van aftree en verhuising weg van Wellington af.

* A well-known Wellington couple has been honoured with the Wellingtonner of the Year award.



More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za