Oud-Hugenoter maak Wellington trots!
2010-09-16
Christopher Young
DIE Hugenote Hoërskool het oor die jare vele leiers opgelewer en dit blyk dat hierdie skool nog steeds besig is om studente van formaat die wêreld in te stuur. Brendon Weyers, ’n oud-leerder (matriek 2006), is onlangs by die gradeplegtigheid van die Full Sail Universiteit in Orlando Florida aangewys as die dux-student van die jaar, nadat hy die graad “Entertainment Business B.Sc.” behaal het. Nie net is hy as “Valedictorian” (Dux) aangewys nie, maar Brendon het ook met ’n arm vol individuele toekennings weggestap vir Sakereg, Bemarking Rekeningkunde, Televisiebedryf, Inleiding tot Bestuur en Vermaaklikheidsbedryf en Entrepreneurskap. Brendon is verder met die gesogte “Advanced Achievement Award” beloon waarna hy die byeenkoms toegespreek het. Ná matriek het Brendon die geleentheid gekry om in Amerika te gaan werk en het by die Six Flags Theme Park (susterpark van Disney World) begin. Toe die winter aanbreek, het hy weer by ’n ski-oord sy gewig ingegooi. Brendon het alles as ’n geleentheid beskou en toe die kans hom voordoen om as persoonlike assistent vir Tony Hawk (bekende professionele skaatsplankkampioen, ontwerper van interaktiewe sportvideospeletjies en Amerikaanse sportman van die jaar) te wees het hy dit aangegryp en saam met Tony op toer gegaan. Gedurende hierdie tyd het Brendon besluit om in Amerika te studeer. Hy is by Belmont Universiteit asook by Full Sail Universiteit aanvaar. Full Sail word beskou as die “Harvard” van Multimedia Universiteite en daarom het Brendon sy tassies in Orlando Florida by Full Sail gaan uitpak. Die blootstelling aan bekende en invloedryke persoonlikhede was verstommend. Die lektore sluit in Stedman Graham (sakeman en Oprah Winfrey se lewensmaat), Bruce Swedien (vervaardiger van Michael Jackson produksies), Randy Dease (Paramore bestuurder), asook Chuck D (Public Enemy) kan ’n mens seker niks anders doen as om goed in die klas op te let nie. Geleenthede om op stel van produksies te wees het hulle ook gereeld voorgedoen soos vroeër die jaar toe die stel van Jackass 3 besoek is en skouers met Jonny Knoxville en Bam Margera geskuur is. As een van menige projekte het Brendon ook besluit om ’n klein besigheid te begin en sodoende het “Purple Gorilla”, sy advertensie- en ontwerpmaatskappy begin. Die maatskappy het so pas met hul eerste groot kontrak “Rock For Hunger”, ’n groot musiekfees in Orlando, Florida, klaargemaak. Die groot sukses daarvan sowel as die getal volgelinge van Purple Gorilla op “Twitter”, is ’n aanduiding dat sy maatskappy ook groot hoogtes kan bereik. Die gradeplegtigheid is deur sy pa, Len, bygewoon wat terselfdertyd vir besigheid die VSA besoek het terwyl sy ma, Marlene, op Wellington agtergebly het. Dit was ’n baie vreugdevolle, maar ook emosionele geleentheid vir sy ouers wat drie jaar tevore deur dokters gesê is om hulle vir die ergste voor te berei toe Brendon in die hospitaal gelê het met breinvliesontsteking. Hy het wonderbaarlik herstel. “Ons is so trots en dankbeer,” sê Marlene. “Len was te emosioneel om direk ná die plegtigheid met my te praat, toe bel vriende wat in die VSA woon en die geleentheid bygewoon het met die wonderlike tyding van die toekenning. Later die aand toe ek uiteindelik met Len kon praat, het ons meestal maar oor die foon gehuil.” ’n Beurs van Full Sail Universiteit is ook aan Brendon toegeken wat hy gewis gaan opneem as hy eersdaags terugkeer Florida toe om sy MBA in “Entertainment Business” te gaan doen Of hy daarna sy besigheid gaan uitbrei of die filmwêreld van Hollywood gaan aanpak is nog ’n ope vraag en net die tyd sal leer, maar ’n sukses daarvan sal hy beslis maak. En wie weet, miskien spog Wellington in die toekoms met sy eie Oscar-bekroonde en het Hugenote nog ’n naam vir hul muur.
More
News
|