Wellingtonner van die Jaar
2010-09-23
Johan Nel
DIE verpleegsuster wat 14 jaar gelede ’n opleidingsentrum op die dorp gestig het, is deur die Wellingtonse Rapportryerskorps as Wellingtonner van die Jaar aangewys. Iréne de Waal is die dorp se 21ste Wellingtonner van die Jaar. Volgens Herman Bailey, wat die aankondiging namens die Rapportryers op ’n spog-dinee in die saal van die Hugenote Laerskool gemaak het, span hierdie toekenning die kroon op al die jare waarin sy die mense van die Drakenstein op uitsonderlike wyse gedien het. Haar werk is, volgens hom, reeds in 2001 vir die eerste keer deur die plaaslike gemeenskap raakgesien toe sy ’n sertifikaat van uitnemendheid van die senior burgers van Wellington ontvang het vir wat sy in die voorafgaande jare onder die bejaardes van die dorp en omgewing as lid van die ACVV van Wellington verrig het. In 2004 het die gemeenskap haar drie keer vereer toe sy ’n spesiale oorkonde van die Wellingtonse Rapportryerskorps vir diens en toewyding aan die gemeenskap ontvang het, toe sy as Kommunikeerder van die Jaar deur Toastsmasters Paarl aangewys is en later in die jaar deur distrik 410A van Lions International as Wellington se Vrou van die Jaar aangewys is. In 2006 het die Drakenstein Munisipaliteit haar met ’n spesiale toekenning vereer vir haar gemeenskapswerk op die gebied van opvoeding. Bailey het gesê dat sedert De Waal en haar man hulle 17 jaar gelede in Wellington kom vestig het, is haar werk hier op die dorp en in die omgewing gekenmerk deur ’n opregte liefde vir haar medemens en ’n drang om ander te help. “Iréne de Waal het ’n passie om mense te help om hul vaardighede en talente te ontwikkel. Dat sy dit met oorgawe doen, word onderstreep deur die feit dat ruim 85% van die duisende studente wat hulle die afgelope 14 jaar by die Wamakersvallei-opleidingsentrum kom inskryf het, hul kursusse suksesvol voltooi het. “Sy het deur al die jare haar werk met oorgawe verrig. Soms het ontsaglike struikelblokke soos gebrekkige fondse en probleme rondom die beskikbaarheid van geskikte onderriglokale haar probeer stuit. “Vandag weet ons dat niks Iréne de Waal kon keer in haar pogings om ’n unieke opvoedkundige sentrum op Wellington te vestig nie. In vele opsigte staan haar werk in die tradisie van die opvoedkundige werk wat die bekende dr Andrew Murray meer as ’n eeu gelede hier op Wellington gevestig het.”
More
News
|