Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Verlatekloof se stories

Verlatekloof se stories
 
2010-10-02

Marguerite Lombard

VERLATEKLOOF se mense kán ’n storie vertel, maar mens, het hulle byname gehad! Hele families het saam gedra aan daardie byname.

Lea Jonkers vertel tydens een van die Wellington Museum se Om-die-tafel-stories-werksessies dat al die families byname gehad het.

“Daar was die Kraaie, die Ape, Slange, Muise – en so het ons mekaar geken. Ons het so grootgeword.”

Die mense om die tafel skater van die lag oor hierdie herinnering. Dis die lekker-lag van onthou toe ’n Slang met ’n Muis getrou het; en die dag toe ’n Slang so bang was vir ’n regte slang.

Verlatekloof is vandag algemeen bekend as Laer Pentzstraat op Wellington. Die meeste van die erwe het oorspronklik aan die NG Sendingkerk behoort. In 1966 het die kerk sy huise verkoop, en so het ander families in die gebied ingetrek.

Arthur Paulsen het in Verlatekloof grootgeword. “Verlatekloof het begin by wat ons Tom se Rietbos genoem het, aan die voet van Botterberg, tot oor die treinspoor.

“Die lewe wat ons daar gehad het, was nie soos dit vandag is nie. Ons mense het in daardie dae maar min verdien, maar ons was soos ’n groot familie.”

Wellington se gholfbane – of die gholfland – was vir baie kinders van Verlatekloof ’n bron van sakgeld. ’n Joggie het toe nege pennies verdien.

Myrtle Willemse vertel dat sy en haar vriendinne hulle ook as seuns vermom het, in ’n langbroek en kep, om só sakgeld te verdien.

“Ons het die 9 pennies natuurlik net so by Mnr Breytenbach se kafee op lekkergoed uitgegee, of op ’n halwe brood met smeerwors,” vertel sy.

Die kinders van Verlatekloof het nie TVs of rekenaars gehad nie, hulle het buite gespeel. Hulle het in die turksvybos naby Ant Moema se huis gespeel, die bos van binne hol uitgekap om ’n konsertsaal te maak. Jam-blikke is vir stoele uitgepak en die grootmense is genooi vir die konsert.

Hulle kinderjare is ryk aan beelde van ’n tyd wat verby is, van matrasse met strooi stop, Piet Hugo se Chev-lorrie wat waatlemoen verkoop, ant Lea se waatlemoenkonfyt wat basaartyd gemaak is.

Van Blommetjie, die Breytenbach se melk-koei. Die kom vol vleis – stukkies het hulle dit genoem – wat die kinders by die slagpale vir ’n sikspens gekoop het.

Van die Good Hope Choir wat Martha Abrahams se pa gestig het en die Colombia Band.

Myrtle Willemse vertel dat sy nog ’n kind was toe sy en ’n vriendin die vroedvrou se tas moes gaan haal. Een van haar tantes was in kraam.

“In daardie dae het die grootmense gesê die bobbejaantjie kom nou uit die berg uit. Jy weet hoe is ’n kind - soos ons stap dink ek, maar die bobbejaantjie is dan mos in hierdie suitcase.

“Toe ons by die rietbos kom, sê ek vir my vriendin, kom ons maak dit oop, ek wil sien of die bobbejaantjie hierin is. En so maak ons die tas oop, want sien ons soek die bobbejaantjie. En daar is net skertjies en watte.

“Mens, maar was die nurse omgekrap dat ons die tas oopgemaak het!”

Die beelde wat die stories optower, vul die ou inwoners met heimwee. Van tye toe hulle as kinders met emmertjies vars koeimis opgetel het vir hulle ma se misvloer. Van knikkels en surings eet, en klere was in die Bergrivier.

Martha Fortuin onthou hoe sy as jong dogter die gesin se wasgoed gedoen het.

“Ek was toe in standerd agt, dan gaan studeer ons by die rivier, daar by Geelwal. Ons het altyd die wasgoed saamgevat. Dan staan ons so half-lyf in die water en klere was, mooi uitgespoel en dan op die wal laat droog word terwyl ons huiswerk doen en studeer.

“As ons klaar gestudeer het en die wasgoed is mooi droog, is alles netjies opgevou en dan stap ons huis toe met die bolling wasgoed op die kop.”

Soos in talle gemeenskappe van daardie tyd is daar altyd ’n storie om die dorp se nagwa. In Verlatekloof gaan dit oor die tyd toe oom Sampie Samson met die nagwa in’n ongeluk was. Hy was daarna bekend as die “ruikste” bruinman op Wellington.

Verlatekloof het dokters en predikante, onderwysers en vakmanne opgelewer, en ook ’n paar bekendes.

Robert Prins het sy sangloopbaan daar begin, en Myrtle Willemse het in Dirk de Villiers se rolprent “Jantjie kom huis toe” gespeel in 1984.

Die stories van Verlatekloof is deur die Wellington Museum opgeneem as deel van hulle projek Om-die-tafelstories. Soortgelyke werksessies sal nog met die gemeenskappe van die Koeikraal, Die Gat en Keeromstraat gehou word.




More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za