Nuwe hoof vir Hugenote Laer
2005-02-15
DIE nuwe skoolhoof van Laerskool Hugenote, Henry Schemper, het darem die afgelope jaar of wat kans gehad om gewoond te raak aan Wellington se hitte.
Hy het vakansies en naweke vanaf Kleinzee in Namakwaland gependel om by sy vrou Alta en gesin te wees, wat hierheen verhuis het sodat hul drielingseuns, Braam, Riaan en Henry hul studies aan Hugenote Hoër kon begin.
Alta het op Wellington begin skool hou, en Henry was hoopvol dat ‘n uitdagende posisie in die streek gou vir hom sou oopgaan om die gesin te kan herenig.
Hy vertel dat, hoewel dit ‘n moeilike jaar of wat was, dié “gesinskwaliteitsbesluit” ‘n positiewe verloop gehad het met sy aanstelling as Hugenote Laerskool se hoof. “Ons is ‘n puik span,” vertel hy trots van Alta, wat nou onderwys gee by Wellington Preparatory School en met wie hy reeds 26 jaar getroud is. Dié vyftigjarige se onderwysloopbaan het hom reeds na drie lande (en ‘n verskeidenheid klimaatsones) geneem.
Henry, wat in Windhoek skoolgegaan en in Pretoria studeer het, het sy dae voor die skoolbanke in Karasburg in Namibië begin. Daarna het dertien jaar in Swaziland gevolg by ‘n kosmopolitaanse privaatskool wat deur ‘n Laeveldse suikermaatskappy bestuur is. Vir die afgelope elf jaar was hy hoof van Kleinzee Primêr in Namakwaland, ‘n dubbelmedium privaatskool van die De Beers mynmaatskappy met sowat 300 kinders.
Dié gebore onderwysman sê die interaksie met kinders is die rede hoekom hy die onderwys betree het. By Hugenote sal hy darem nie net met administrasie betrokke wees nie, maar ook verantwoordelik wees vir wiskunde vir die Engelse graad sewes. Hul jare in Namakwaland het aan die Schempers-gesin ruim kans gegee om hul liefde vir die buitelewe uit te leef.
Hy is 'n gekwalifiseerde 4x4-gids en skubaduiker en speel ook lekker kitaar, terwyl sy vrou 'n ywerige natuurfotograaf is. As wiskundige en rekenaarman glo hy duidelike, sistematiese strukture en beplanning is noodsaaklik vir effektiewe bestuur met 'n strategiese bestuursplan waarin die gemeenskap voorrang genie. “Ek glo ons moet prioritiseer en kort-, medium- en langtermyn doelwitte daarstel, waarheen ons as skool wil streef.”
Van die tradisies wat hy selfs verder wil uitbou is die reeds sterk ouersamewerking en die trots daaraan verbonde om ‘n “Hugenoter” te wees. Met ‘n gemotiveerde personeelkorps agter hom is hy gereed vir dié uitdaging.
More
News
|