Kersfonds reik weer helpende hand
2010-10-15
DIE Paarl Post Kersfonds samel elke jaar fondse in vir die Wes-Kaapse Gemeenskapskas, wat sowat 30 verdienstelike plaaslike organisasies steun. Die Gemeenskapskas maak bydraes tot hierdie welsynsorganisasies in die Paarl Post se lesersgebied (sowat R727 000 die afgelope jaar) en lesers word uitgenooi om dié poging ’n hupstoot te gee met bydraes tot die 2010 Paarl Post Kersfonds. Alle plaaslike bydraes word in ’n afsonderlike bankrekening inbetaal en deur die Gemeenskapskas teruggeploeg slegs in die Paarlvallei. Die Gemeenskapskas se begunstigdes in die Paarlstreek is onder andere die ACVV, Rusoord-ouetehuis, Silwerkruin-ouetehuis, Oase Dienssentrum vir Bejaardes, Badisa Paarl en Wellington, Kindersorg Paarl & Distrik, Drakenstein sentrum vir liggaamlik gestremdes, Amado (perdeterapie vir gestremde kinders), Care Craft werkswinkel vir epilepsielyers in Wellington, Abbeyfield-tehuis vir bejaardes Wellington, Andrew Murray Kinderhuis, Paarl Haven nagskuiling, Saron Gemeenskapsdienste en Good Hope Sielkundige Dienste. Skenkings kan direk inbetaal word in die Gemeenskapskas/Paarl Post Kersfondsrekening 62152029007 by FNB (taknr 261150). Faks die strokie na 086-270-3693 (aandag Kersfonds). Navrae by 021-870-4602.
More
News
|