Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Groot menslike nood in vallei

Groot menslike nood in vallei
 
2010-10-28

Liezl Dyson

DAAR is groot menslike nood in die armer gemeenskappe van die Paarlvallei, wat gekompliseer word deur afhanklikheid van drank en dwelms. Dit het geblyk uit die onlangse verslagvergadering van Badisa, welsynsarm van die VGK en een van die begunstigdes van die Paarl Post Kersfonds.

Volgens Badisa Paarl is die maatskaplike problematiek van hul kliënte hoofsaaklik ontoereikende ouerskapsvaardighede, verwaarloosde en mishandelde kinders, gedragsprobleme, verlate kinders, seksueel gemolesteerde kinders, middelafhanklikheid, armoede, werkloosheid, MIV/Vigs en gesinsgeweld.

Volgens maatskaplike werker Francelyn Le Kay is een van die nuwe tendense wat ondervind word, dat dwelmverslaafde meisies betrokke raak by prostitusie om geld te verdien.

Skoolgaande dogters raak ook betrokke by seksuele verhoudings met ouer mans.

Selfs laerskoolleerders eksperimenteer met dwelms soos gom en dagga.

Skoolversuim onder laerskool- en hoërskoolleerders kom al hoe meer voor en ouers het geen beheer oor hul kinders nie.

“Een van die gevalle wat uitstaan in die gemeenskap is dat kinders geen struktuur in hulle lewe het nie en dat ouerlike beheer, toesig en dissipline ontbreek.”

“Ouers kom met kinders na ons toe wat so jonk as 10 jaar is en sê die kind luister nie na hulle nie of dat hulle nie die kind kan beheer nie.”

Volgens maatskaplike werker Zenobia Goodwin vind hulle ook dat kinders vir hul ouers dwelms en drank koop en dat ouers baie keer skuil agter hul omstandighede as dinge verkeerd loop.

Die ander aspek wat groot kommer wek by die maatskaplike werkers is dat daar ’n groot nood aan kos is.

“Kinders kom soms na ons projekte toe omdat hulle honger is en hulle weet daar sal iets te ete wees. Baie keer het ons nie genoeg kos om vir almal te gee nie en jy bereik nie regtig jou doel met die kind as hy nie kan konsentreer nie. Al waaraan die kind dink, is ‘wanneer gaan ons eet?’

Badisa se diensleweringprogram fokus op bewusmaking en voorkomingsprogramme deur inligting en opvoeding om te verseker dat individue en gemeenskappe hul sosio-ekonomiese regte en verantwoordelikhede ken en weet hoe om toegang daartoe te verkry.

Die program behels ook die vroeë ingryping waardeur kwesbare individue en groepe geïdentifiseer word en ontwikkelings- en terapeutiese programme en dienste aan hulle gelewer word.

Hulle is ook behulpsaam met statutêre dienste binne die wetlike raamwerk soos kindermishandeling en kinderhofverrigtinge. Badisa bied verskeie projekte vir kinders deur die jaar, maar benodig fondse daarvoor.

Vir die toekoms beplan Badisa om te fokus op die werwing van vrywillige werkers asoook veiligheidsouers vir die beveiliging van kinders. Badisa word finansieel ondersteun deur die Departement van Gemeenskapswelsyn, Lotto, Gemeenskapskas en vrywillige bydraes van individue, kerke en instansies. Bydraes van enige soort word verwelkom.

Individue wat hulp benodig, kan ’n afspraak maak by die Paarl-kantoor by VGK Zions (tel 021 862 4606). Badisa Wellington is geleë te Pentzstraat 27 (021 873 4274).




More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za