Paarliet sterf in motorongeluk
2010-11-04
’n BELOWENDE jong Paarliet het verlede week tragies gesterf in ’n motorongeluk in Kimberley. Corné Weyers (20), ’n voormalige leerder van Hoërskool Labori en inwoner van Noorder-Paarl, het Donderdagaand beheer oor sy motor verloor en teen ’n boom gebots. Hy is met ernstige beserings gehospitaliseer en is Vrydagoggend oorlede. Weyers het in 2008 sy matriek voltooi en het hierna by die Kaapstad Universiteit van Tegnologie mariene ingenieurswese gaan studeer. Die kursus het verskeie praktiese fases wat die student op alle aspekte van seevaart voorberei. Hy was sedert die einde van April betrokke by ’n Safmarine-kursus by die De Beers-kampus in Kimberley en sou vandag na die Paarl terugkeer. “Sedert Corné ’n kind was, was hy verlief op die see,” het sy ma Estelle gesę. “Dit was sy passie en deur sy studies het hy sy droom ten volle uitgeleef.” Op skool het Weyers Boland-kleure verwerf vir karate en skaak. Hy word oorleef deur sy ma, pa Neels en suster Leonie (12). Sy begrafnis vind môre om 12:00 vanuit die NGK Paarlberg plaas.
More
News
|