Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


`Potjiekosdominee' tree af

`Potjiekosdominee' tree af
 
2005-10-06


Ná 32 jaar as leraar van die Toringkerk in die Paarl, het die bekende “potjiekosdominee” dr Matie Brink op Sondag 11 September sy emeritaat aanvaar.

Dr Brink, vernoem na sy predikant-oupa, is self ’n predikantseun.

Hy het as kind die vormende invloed beleef van sy pa se bediening in interessante en afgeleë distrikte soos Lüderitzbaai in Namibië en Adusha, Tanzanië.

Brink is in Gansbaai gebore as een van ’n tweeling op 18 Desember 1945, maar het kort voor lank saam met die gesin na Lüderitz verhuis.

In die jare toe Afrika onrustig begin roer het onder die gees van nasionalisme, het hulle na Tanzanië vertrek, waar die jong Matie (toe nege jaar oud) die wonderlikste avonture sou beleef.

Tussen die berge Kilimandjaro en Meri het hy gespeel, gejag en saam met sy vader op huisbesoek gegaan.

Hoewel dit die jare van die berugte Mau-Mau-bendes was, was die enigste persoon wat hy geken het wat fisies beseer is, ’n ouderling van Eldoret, Koppie Eksteen, wie se oor deur ’n bende afgesny is.

Hy kan onthou dat hy ’n sterk verantwoordelikheidgevoel gehad het om die gesin te beskerm wanneer sy pa in die distrik moes uitgaan.

As jong seun sou hy dan met sy kettie as verdedigingswapen gaan slaap.

Tog onthou hy daardie jare nie as vreesvervuld nie, maar as ’n tyd van die wonderlikste avonture van sy lewe.

Sy voltooide bundel kortverhale oor huisbesoek destyds in Tanzanië, mag binnekort die lig sien en hy is ook in besit van sy oorlede pa se memoirs oor die lewe as predikant in Afrika.

Hoewel sy pa nog in Tanzanië aangebly het tot Matie sestien jaar oud was, was hy die laaste twee jaar daarvan op Upington op skool.

Sy pa het later ’n beroep na die Strand aanvaar en Matie sou sy hoërskoolloopbaan en studies in die Boland voltooi.

Min sou sy mede-studente aan die Stellenbosch Kweekskool seker kon droom dat Matie Brink later, as die sogenaamde potjiekosdominee, ’n huishoudelike naam in Suid-Afrika sou word.

Die eerste van vier potjiekosboeke, ‘Dis nou Potjiekos’, was in 1983 ’n topverkoper, terwyl die destydse oplaag van 14 000 vir ‘Koningskos’, selfs vandag nog besonder goed verkoop vir ’n Afrikaanse boek.

‘Onthaal met Potjiekos’ en ‘Potjie, ons gaan Paarl toe’ het op die eerste boek gevolg en met die uitsondering van ‘Koningskos’, is die boeke ook in Engels uitgegee.

Sy eerste gemeente was Ladismith, Kaap, in daardie jare ’n kookpot van politieke strominge en ’n tameletjie vir die jong predikantseun uit Afrika. Tog het hy kosbare lesse geleer en nog nooit teruggekyk nie.

Sy volgende beroep was na die NG-gemeente Toringkerk in die Paarl, waar hy sy doktoraat sou voltooi en as predikant sou aanbly tot sy aftrede.

Hier kon hy in groter vryheid sy werk verrig, iets waaroor hy homself as bevoorreg beskou.

Hy merk met ’n ondeunde glimlag op dat hy nie dink hy sou dit ooit kon maak as predikant in die ou tradisie nie.

Brink beskou dit ook as ’n besondere voorreg om as predikant in die Paarl, met sy ryk historiese erfenis, te kon werk.

Ook die feit dat hy deur die jare ’n invloed kon uitoefen op so baie jongmense, wat van dwarsoor die land hul skoolopleiding in die Paarl ontvang, is ’n besondere voorreg.

“So dikwels kan ek net verwonderd staan oor die werk van die Here, wanneer ek terugvoer van mense kry, oor dinge wat ek hulle as hoërskoolleerlinge geleer het en wat hulle altyd bygebly het,” vertel hy.

“Baie van die jongmense wat deur die jare onder my leiding gekatkiseer het, het van dwarsoor die land en van oorsee teruggekom, sodat ek hulle in die huwelik kon bevestig en selfs hulle kinders kon doop.”

Sy vrou, Cheryl (gebore Ruthven) het hom al die jare getrou bygestaan in sy werk en in die versorging van hulle vyf kinders (die tweeling Walter en Philip, Liezel, Cheryl-Mari en Martelize).

Sy was deur die jare ook betrokke by die Vrouesendingbond, die Kinderkrans en die ACVV.

Sy onthou met ’n vonkel in haar oog drie nuwe rokke wat haar ma vir haar, as jong predikantsvrou, laat maak het, met die tipiese soomlyn van destyds, “wat so êrens teen die bobeen gelê het”.

Iemand in hulle eerste gemeente het haar egter op en af beskou en toe met finaliteit opgemerk: “Jy is nie ’n predikantsvrou nie”.

Nodeloos om te sê, die bekoring van die nuwe klere was onmiddellik daarmee heen.

Ook hier in die Paarl is sy, soos soms met ’n predikantsvrou gebeur, een maal openlik op haar baadjie getakseer, toe die legendariese onderwyser Olaf Dreyer droog opgemerk het: “Not ready for heaven yet”.

Iets wat dr Matie betreur, is die feit dat die Bybelse gesag en die interpretasie van Bybelse waarhede vandag onder verdenking gebring word.

“Ek verwys onder meer na die boek Da Vinci Code, waarin die indruk verkeerdelik geskep word dat dit op die waarheid berus.”

Hy onthou egter met dankbaarheid dat die Toringkerk se Kerkraad nie een enkele keer, in die 32 jaar van sy bediening, ooit ’n verskil gehad het oor iets wat nie werklik saak gemaak het nie.

Vir hom was sy eerste verantwoordelikheid deur al die jare, die kerk, waarvoor hy as jong man ’n roeping aanvaar het.

Die Brinks het intussen huis gekoop in die Paarl en beplan om nog lank deel te wees van die plaaslike gemeenskap.

Dr Matie sal waarskynlik nog vir lank besig gehou word met huweliksbevestigings en dies meer.

Maar verder gaan hy hom toespits op sy stokperdjies, waaronder die maak van meubels uit optelhout.

* A Paarl minister famous for his “potjiekos” recipe books, has retired.



More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za