Viskaiings en halwe brood
2010-11-11
Marguerite Lombard
DIE onthou van ’n plek is dikwels opgesluit in die kos wat mense toe geëet het - soos viskaiings. Wie onthou nog die lekkerte van viskaiings op die sypaadjie eet met ’n stuk vars wit brood? Of van Wilson toffees en Star-lekkers. Drop-lekkers en dood-gooi-koek. Die mense wat as kinders in Agterstasie gewoon het, onthou dit soos gister. Agterstasie lê min of meer tussen Huguenot-stasie en Jan van Riebeeckweg, ’n gebied wat vandag hoofsaaklik in Paarl se industriële gebied val. In die laat 1960s, met die toepassing van die Groepsgebiedewet, is die huise in Agterstasie platgestoot en is Agterstasie se mense verskuif na nuwe munisipale huise in onder andere Lantana in Paarl-Oos. Die projek om die geskiedenis van woongebiede wat deur apartheidswetgewing tot niet gemaak is, op te skryf, word tans deur die Drakensteinse Heemkring aangepak. Mense wat voorheen in Agterstasie gewoon het, het verlede week by Orleansvale Primêr in Springbokstraat, Paarl-Oos, bymekaargekom om te praat oor hulle kinderjare. Die groep is onder leiding van een van Agterstasie se inwoners, Willie Philander, bymekaargebring. Vandag is daar geen teken meer van die “treinhuise” met hulle gemeenskaplike toilette en krane nie. Die meeste huise was huurhuise met met houtvloere. Agterstasie was ’n dorp binne ’n dorp, wat gesentreer was om winkels soos Waso, Van der Westhuizen se viswinkel, Abie Louw se Handelshuis, Alie se Stoor, die Altona en die Welcome Kafee. Mense onthou nog soos gister vir oom Frikkie Ruiters wat sy eie grond gehad het, en vir Nurse Goliath wat een van die vroedvrouens was. Hoe almal in die warm somermaande buite kon slaap. Lucy van Wyk het in Van der Merwestraat gewoon, en was twintig jaar oud toe sy uit Agterstasie moes trek. Die meeste inwoners het by Royal Baking Powder, Sasko, Woollens, of die inmaakfabriek H Jones & Co gewerk. “Daardie jare was Jones in Suider-Paarl ’n groot fabriek en baie van ons ouers het daar gewerk. Ons mense het in die fabrieke gewerk, ons was nie plaasmense nie. “As kinders het ons take gehad. Smiddags het ons ná skool ons huiswerk gedoen en dan begin om kos te maak. Alles moes stiptelik klaar wees. Brood gebak, alles. “As Ma aangestap kom van die werk af, dan moet die koffie gemaak word, sodat as sy instap, sy haar koffie kan drink. “Die lewe was swaar, want ons is uit die skool om vir ons ouers te help. Daar was nie tyd om vorentoe te kyk nie. “Ek onthou nog hoe almal op die boek by Solomons se winkel gekoop het. Dan word hy eers aan die einde van elke maand betaal. My ma was eintlik die een wat die boek gehou het, almal het op haar naam gekoop.” In daardie jare het die Paarl heelwat bioskope gehad. John West onthou van die Palladium in Lady Greystraat, die Roxy, die Excelsior in Noorder-Paarl en die Planet. “Toe kon jy met two bob (20c) betaal vir jou kaartjie en ’n lekker stukkie kos, en dan het jy nog kleingeld gehad om huis toe te neem.” Agterstasie se kinders was lief vir hulle cowboy-flieks en oorlogsprente. Lucy van Wyk onthou hoe hulle as kinders dopgehou het vir die vislorries as hulle nie sakgeld gehad het nie: “As ons sien hier kom Van der Westhuizen se vis, dan hardloop ons om daai harders te gaan vlek. Dan stink ons die hele aand pure vis in die bioskoop! Maar ons het net ge-smile, en maak asof ons niks weet nie!” Die sosiale lewe in Agterstasie was gesentreer om die Kraal, waar almal rugby, krieket of netbal gespeel het, en geesdriftig hulle span, Riverstones, ondersteun het. Vandag is die Kraal ’n verlate oop stuk veld in Jan van Riebeeckweg. Die ou inwoners van Agterstasie kom weer Sondag 21 November by Huguenotstasie bymekaar. Belangstellendes kan die Heemkring by 076-473-6176 skakel vir meer inligting. Die volgende woongebied wat opgeteken sal word, is Jubilee (dit was langs die Bergrivier in die omgewing van die Lady Greystraat-brug).
More
News
|