Steunpilaar sterf
2010-11-11
Lise Beyers
’n STEUNPILAAR van die gemeenskap van Paarl-Oos het die naweek die stryd gewonne gegee ná ’n lang siekbed. Kolonel William Reid (60), wat voor sy aftrede diep spore getrap het by die Paarl-Oos polisiekantoor, is Saterdagoggend tuis oorlede. Maagkanker is twee jaar gelede by Reid gediagnoseer en hy is gedwing om af te tree. Selfs ná sy aftrede was hy steeds druk betrokke by die bekamping van misdaad in Paarl-Oos, dié keer by wyse van gemeenskapspolisiëring. Maar onlangs het sy siekte weer hervat en Reid het nie weer kans gesien om gehospitaliseer te word nie. Hy is tuis dood, omring deur familielede. Hy was ’n gebore Paarliet en het skoolgegaan by Noorder-Paarl Hoër en Paulus Joubert Sekondêr. Hy was ’n toegewyde polisieman en was deurgaans betrokke by die gemeenskap van Paarl-Oos, en is deur talle gesien as ’n vaderfiguur. Hy word oorleef deur sy vrou, Jenny, en kinders Jacqueline (36), Abigail (32) en seun Patrick (27). Die begrafnis vind Saterdag om 09:00 plaas vanaf die huis te Lloydstraat 5 en daarna om 10:00 by die Annunciation Kerk.
More
News
|