Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Só maak die Baileys vir Kersfees

Só maak die Baileys vir Kersfees
 
2010-11-25

Lise Beyers

MET Kersfees om die draai begin talle mense reeds deur die winkels snuffel vir geskenke.

Maar oudburgemeester Herman Bailey en sy vrou Carol spandeer hul tyd nuttiger. Tans woel hulle in hul kombuis, aan die bak en brou.

Want jaarliks gee dit vir hierdie gewilde egpaar van Wellington groot plesier om Kerskoek te bak, wat hulle dan aan vriende en familie as Kersgeskenke uitdeel.

Vir die Baileys is Kersfees ’n wonderlike tyd van die jaar wanneer familie en vriende bymekaarkom.

Hul Kersfees begin volstoom op 24 Desember, wanneer hul vier seuns en hul gesinne terugkeer na Wellington, en hul kinderdae, vir hierdie groot feesviering.

“Carol maak die boom en huis pragtig mooi met liggies en versierings. En behalwe vir ons familie wat bymekaarkom, is daar goeie vriende wat ook saam kom.

“Natuurlik is dit altyd ’n groot kosmakery en Oukersaand braai ons of maak potjiekos. Om middernag word presente oopgemaak en ons gaan wens ons bure ’n geseënde Kersfees toe en kore kom sing in die straat voor die huise.

“Ons is ’n baie noue gemeenskap hier en met Kersfees is ons soos een groot familie.

“So kruip die oggend nader en ons kry nie baie geslaap nie, dan is dit weer kerk toe.”

En weer word daar hard gewerskaf in die kombuis vir nog ’n feesmaal.

“Dis kerrie- en beespootpot, gebraaide skaapboud, gevolg deur gebakte poeding en koekstruif.

“Maar tussen al die feesviering deur, glo ons sterk aan die boodskap van Kersfees en dink aan minderbevoorregtes.

“Dit is weinig dat ons op Kersdag uitgaan, ons spandeer dit met familie en vriende.”

Maar terug na die Kerskoek waarvoor die Baileys hulle so beywer.

“’n Sekretaresse van my het ons daaraan voorgestel en dit was tog te lekker. Toe deel sy die resep en sedertdien maak ons ’n paar elke jaar.”

Dit is maklik en word in ’n mikrogolf gebak, wat baie tyd en krag spaar: 250g elk dadels en versuikerde kersies; 500g vrugtekoekmengsel; 250ml sagte bruin suiker; 250ml bitter swart koffie; 125g botter of margarien; 5ml koeksoda; 250ml pekanneute; 2ml elk bakpoeier, gemengde speserye en gemaalde gemmer; ’n knertsie sout; 2 eiers en 125ml brandewyn

Snipper die dadels en kersies fyn en plaas in ’n groot mengbak. Voeg die vrugtemengsel by, suiker, koffie en botter of margarien.

Verhit die mengsel in die mikrogolf vir 5 minute teen 100% krag en roer elke nou en dan. Voeg dan die koeksoda en neute by en meng. Laat die mengsel afkoel tot louwarm.

Sif die res van die droë bestanddele by, klop die eiers, voeg daarby en meng alles goed saam.

Bespuit dan ’n koekpan met ’n deursnee van 23cm en ’n diepte van 9cm met Spray-and-Cook. Sny ’n ronde bakpapier om op die bodem van die pan te pas.

Plaas die koekpan dan binne die mikrogolf, bo-op ’n onderstebo bordjie en maak die pan losgewys toe met nog ’n vel bakpapier.

Skakel jou mikrogolf af na 30% krag en bak die koek vir 30 tot 40 minute. Indien daar nie ’n roterende basis is nie, draai die pan nou en dan om.

Haal uit en laat die koek in pan effens afkoel. Gooi dan die brandewyn daaroor en laat dit heeltemal afkoel voordat dit uit die pan gehaal word.




More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za