Nog ’n hupstoot vir Kersfonds
2010-12-15
DIE Paarl Post Kersfonds sluit vanjaar af op ’n hoë noot, met ’n totaal van R32 896,46 nadat die Laerskool La Rochelle altesame R1500 oorhandig het as hul bydrae vanjaar. Daar is ook ’n groot skenking van R7000 deur PaarlColdset (deel van PaarlMedia) ontvang, asook ’n bydrae van R12,60 van A van der Westhuizen. Alle plaaslike bydraes word in ’n afsonderlike bankrekening inbetaal en deur die Gemeenskapskas teruggeploeg in die Paarlvallei - geen bydraes van ons lesers sal aan begunstigdes buite die Paarl Post se lesersgebied uitbetaal word nie. Die Gemeenskapskas se begunstigdes in die Paarlstreek is die ACVV (Paarl, Noorder-Paarl, Paarlvallei, Wellington en Franschhoek), Rusoord-ouetehuis, Silwerkruin-ouetehuis, Oase Dienssentrum vir Bejaardes, Badisa Paarl en Wellington, Kindersorg Paarl & Distrik, Drakenstein sentrum vir liggaamlik gestremdes, Amado (perdeterapie vir gestremde kinders), Care Craft werkswinkel vir epilepsielyers in Wellington, Abbeyfield-tehuis vir bejaardes Wellington, Andrew Murray Kinderhuis, Paarl Haven nagskuiling, Saron Gemeenskapsdienste en Good Hope sielkundige dienste. Plaaslike kleuterskole en kindersorgsentrums wat steun kry, is Wielie Walie, Trompie, Sinethemba, Mamzana, Lingelihle, Ncebakazi (gestremde kinders), Amstel-nasorg, Little Stars en Siyakhula. Ander diensorganisasies wat ook steun kry by Gemeenskapskas is Sanra, Cansa, Rapcan, Famsa, Outisme Wes-Kaap, TB Care, Santa, Hospice, Dementia SA en Diabetes SA. Skenkings kan direk inbetaal word in die Gemeenskapskas/Paarl Post Kersfondsrekening 6215 202 9007 by FNB (taknr 261150) en faks die strokie na 086-270-3693 (aandag Kersfonds). Navrae by 021-870-4602.
More
News
|