Helpende hand op plase
2011-01-20
Melissa Tighy
Ons wil nie net ’n naam skep en niks beteken nie,” sê Pieter Bosman, een van die direkteure van die organisasie Justice on Farms, ’n welsynsorganisasie wat hom die afgelope drie jaar beywer vir die welstand van plaas- werkers in die Boland. “Ons wil verhoudings herstel tussen plaaswerkers en boere,” sê Pieter. Hulle help plaaswerkers en selfs boere wat uitsetting in die gesig staar. “Ons wil nie hê geld moet vermors word by die CCMA of die hof nie - ons wil self dit uitsorteer op die plaas en kyk of almal nie tot ’n vergelyk kan kom nie,” sê Pieter. “Ons beywer ons vir die beskerming van burgerlike regte met verwysing na veral die Esta-wet, asook maatskaplike opheffing,” vertel Johannes Booysen, ’n direkteur van Justice on Farms. Die ander direkteur is Suzette Lewis. Hulle lewer hul diens in samewerking met die Regshulpkliniek op Stellenbosch. “Ons wil dialoog bevorder en aanmoedig,” vertel Johannes, “ons is nie polities nie.” Nie net help dié organisasie met wetlike aspekte nie, maar hulle help ook die plaasgemeenskap met spesifieke fokus op die jeug om karakterbou te bevorder. Saterdae werk die lede van Justice on Farms saam met die jeug om skoon te maak in die omgewing, sowel as om hulle by te staan om hul huise op te knap. “Die boere staan ons by deur materiaal en toerusting te vervoer sodat ons tuine kan skoonmaak en huise verf.” “Ons wil vir die jeug dissipline leer en wys dat jy jou lewe kan verander,” vertel Johannes. “Ons wil hulle besig hou sodat hulle nie sal draai na drank en dwelms nie.” Justice on Farms bedien die gemeenskap tot so ver as Worcester, Gouda en Stellenbosch. “Daar bel selfs al mense uit Tulbagh, Swellendam en Wuppertal!” sê Pieter. “Dit gaan nie oor die geld nie, maar eerder oor om mense te verander en ’n beter toekoms vir ons kinders te kan gee,” sê Pieter. “Almal help mekaar waar hulle kan en bou gesonde verhoudings,” vertel Johannes. Die volgende projek wat Justice on Farms wil aanpak, is om Bainskloof skoon te maak sodat almal die natuur kan geniet in plaas daarvan om in bottels en papiere vas te kyk, maar befondsing bly ’n probleem. Hulle kan gekontak word op 073-995-1632, 083-856-9862 of 021-864-3099. * The organisation Justice on Farms assists in the upliftment of farm workers and improving relationships on farms..
More
News
|