Die Kenneds skrik nie vir harde werk nie
2011-01-20
Liezl Davids
DIE Kenned-gesin van Klein Parys, Paarl, bars van trots andat die twee kinders in die huis, Lynelle (22) en Raven (18), skitterend presteer het die afgelope jaar. Nie alleen is Raven die dux-student van Klein Nederburg Sekondêr, met agt onderskeidings nie, maar Lynelle was vir die vierde agtereenvolgende jaar die topstudent in haar klas aan die Operaskool by Universiteit Kaapstad, en het daarvoor weer eens die dekaansmedalje ontvang. Lynelle, ’n oud-leerder van La Rochelle en Stellenberg Hoërskool, was reeds op skool ’n gereelde bekerwenner vir beste sang by die Eisteddfod. Vanjaar gaan sy ’n honneursgraad in Operastudies aan die Universiteit van Kaapstad doen. “Ek wil meer as net ’n kunstenaar wees, ek wil ’n geleerde mens wees. Wanneer ek my honneursgraad voltooi het, gaan ek my doktorsgraad doen, hopelik oorsee.” Volgens Lynelle wou sy nog altyd gesing het en het sy eers begin met popmusiek voordat sy opera begin sing het. Benewens haar sangstudies speel sy ook klavier, viool en tjello. By Stellenberg is haar talent opgeraap en het sy lid geword van die Suid-Afrikaanse Jeugkoor wat in 2006 in Wallis aangewys is as die beste koor in die wêreld. Lynelle het ook al verskeie toekennings gewen en tree gereeld by funksies op. Sy beplan om in die toekoms haar eie CD bekend te stel. “Daar kom moeilike dae, maar as die gogga jou eers gebyt het, dan raak dit deel van jou menswees en dit raak meer ’n plesier as ’n uitdaging.” Voor ’n vertoning doen sy strekoefeninge, word rustig en berei haarself geestelik voor vir haar vertoning: “Jy moet vertrou op dit wat jy geoefen het, dan sê ek ’n gebedjie op en vertrou dat die Here sal regmaak.” Raven, wat verlede jaar ook Klein Nederburg Sekondêr se hoofseun was, het nie net uitgeblink in sy studies nie, maar was ook betrokke by verskeie ander aktiwiteite by die skool en ook in die gemeenskap. Volgens sy pa en ma, Ralph en Christine, het hy die skoolkoerantjie weer op die been gebring en het hy gehelp met die stigting van ’n Boys band by die skool waarin hy kitaar speel. Raven het ook in die skoolkoor gesing, is aangewys as die beste inleidende spreker by die ATKV redenaarskompetisie en het vir die eerste span hokkie gespeel. Hy het ook, ten spyte van sy akademiese werk en vol program, sy hulp vrywillig aangebied om die Miqlat Jeugsentrum te help verf. Hy is ook betrokke by die kerk. “Dit het eers na ’n ruk ingesink dat ek al my vakke met A’ s geslaag het. Ek is baie trots op myself, gelukkig en dankbaar vir God.” Hy is saam met sy klasmaat, Jo-Anne Jones, ’n toekenning ontvang van die onderwysdepartement. Vanjaar begin Raven studeer in Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese aan die Universiteit van Stellenbosch, waar hy ook ’n werwingsbeurs ontvang het. By die huis geniet hy dit om videospeletjies te speel en hy lees ook graag. Raven het homself ook deur middel van die internet Japanees leer praat, omdat hy graag eendag daar meer kennis wil kry oor die veld waarin hy studeer. Hy sien daarna uit om vanjaar in ’n koshuis op Stellenbosch tuis te gaan: “So leer ’n mens ook om meer onafhanklik te wees en volwasse te raak.” * A talented brother and sister from Paarl have shone academically in their matric and music training respectively.
More
News
|