Bekende Wellingtonner oorlede
2011-01-27
’n BEKENDE Wellingtonner, dr Dries de Kock, is onlangs oorlede aan kanker. Hy was voor sy aftrede lektor in Geskiedenis aan die Onderwyserskollege waar hy en sy vrou Hester ook vir ses jaar inwonende huisouers was van Huis Meiring. De Kock, oorspronklik was Namibië, was onder meer ook onderwyser, dosent op Stellenbosch, joernalis en radio-omroeper voordat hy in 1978 na WOK gekom het. Vroeër jare het hy geskiedenis gegee by HJS en was inwonende hoof van Werda-koshuis. Hoewel ’n geswore Boishaaier, verwerf hy nogtans in 1983, cum laude, sy doktorsgraad met ’n verhandeling oor Paarl Gimnasium. Hy was aktief in die Wellingtonse gemeenskap onder meer as voorsitter van die suksesvolle Herfsfees (1986-1991) wat ook die eerste Liggiesfees in Wellington aangebied het. Hy was ook betrokke by arbeidsbediening en die polisiereserviste. As kommissaris van ede moes hy gereeld in die hof getuig. Regter Desai, vir wie die welsprekende De Kock baie respek gehad het, het hom by geleentheid aan die hof voorgehou as ’n voorbeeld van die ideale getuie. Hy word benewens sy vrou oorleef deur drie getroude kinders en vyf kleinkinders.
More
News
|