Ina Rens het diep spore getrap
2011-02-03
NIKS was ooit buite bereik vir Ina Rens nie, veral nie as daar ’n mens aan die anderkant van die probleem was nie. Hierdie dinamiese Paarliet, wat diep spore in die welsynswêreld getrap het, is verlede Vrydag op 87 jaar oorlede. Die huldigingsdiens is môre om 10:00 in die Toringkerk. Rens, ’n gekwalifiseerde maatskaplikewerker, het haar lewe gewy daaraan om die lewe vir ander mense gemakliker te maak. Sy en haar man, wyle dr Piet Rens, was alombekend in die Paarl - hy as geneesheer, sy as vrywilliger wat haar sonder vergoeding verdiep het in gemeenskapswerk. Sy was haar hele lewe betrokke by die Afrikaanse Christelike Vrouevereniging (ACVV), eers as organiserende sekretaresse en later as takvoorsitter in die Paarl. Daarna, van 1987, het sy vir 18 jaar gedien as voorsitter van die hoofbestuur van dié organisasie met 117 takke wat maatskaplike dienste lewer in die Wes-Kaap, Oos-Kaap en Noord-Kaap. Sy was ’n sterk leier en onder meer die dryfkrag agter die ontwikkeling van Huis Vergenoegd-ouetehuis in die Paarl in die sewentigerjare, ’n multi-miljoenrand projek. Sy was ook voorsitter van die tehuisbestuur tot 2006. Boonop was sy betrokke by die totstandkoming van die Paarlvallei Kinder- en Gesinsorgvereniging en die Rusthof-tehuis vir bejaardes in Paarl-Oos, asook die Paarl-skool vir serebraalgestremdes in Brackenfell. Sy het ook gedien op die Streekswelsynsraad Wes-Kaap wat koördinerend toesig hou oor welsynsorganisasies. Mev Rens is die tagtigerjare deur die Munisipaliteit vereeer en het in 2005 die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniging se toekenning vir gemeenskapsdiens ontvang. Van Huis Vergenoegd se bouprojek het sy vroeër in ’n onderhoud met Paarl Post vertel, “Dit was vir my heerlik om ’n gebou op te rig en dinge te laat gebeur.” Kollegas sê: “Dit was haar sterk persoonlikheid en haar besliste besluitneming wat die skip op die pad gehou het. Die ACVV en hierdie tehuis is eintlik haar monument” (sien ook brief op bl 7). Sy word oorleef deur twee seuns, Albrecht en Nicolaas, en ’n kleinkind, Luca.
More
News
|