Hoekom meestergraad op 60?
2011-02-10
Christine Siebrits
DIE afgelope vyf-en-dertig jaar was ervare onderwysers Alfreda le Roux betrokke by leerders in die Grondslagfase, Graad R, spesiale klas leerders, bewaarskole op plase, multigraad-onderrig, en die opleiding van onderwysassistente by Boland-kollege in die Paarl. Dit is dus maklik om te verstaan hoekom sy ’n buitengewone belangstelling ontwikkel het in die bevordering van die leerprestasies van landelike kinders. Haar liefde vir kinders en ’n hart vir landelike gemeenskappe het haar geïnspireer om verdere studie aan te pak met aksienavorsing oor die grondslagfase vir ’n Meestersgraad in Opvoedkunde (M.Ed.) by CPUT op Wellington. Kort ná haar 60ste verjaarsdag het sy dan ook die graad behaal. Alfreda se studie handel oor die groot rol wat versorgers speel om taalontwikkeling by kleuters te stimuleer, en oor die opleiding van laaggeletterde Afrikaanssprekende versorgers in ’n landelike gebied. Die eerste vier jaar is belangrik omdat die brein van die kleuter gereed is vir die aanleer van taal. In ’n neutedop kan gesê word dat al wat die volwassenes naaste aan hom hoef te doen, is: wees lief vir die kleuter; laat hom veilig en bemind voel; gesels met hom terwyl jy die nuwe wêreld waarin hy hom bevind aan hom bekend stel; sorg dat sy dieet genoeg yster, vitamines en noodsaaklike vette bevat; en glo in hom as ontluikende mens met die verwagting dat hy kan kommunikeer, terwyl jy hom aanmoedig deur interaksie in ’n stimulerende omgewing. Dit klink vanselfsprekend, maar ongelukkig is die werklikheid van enige ouer vol struikelblokke. Die laaggeletterde landelike ouers in laer inkomstegroepe ervaar ’n menigte struikelblokke wat oorlewing hul grootste bekommernis maak en hulle en hulle kinders vasgevang laat bly in ’n siklus van armoede. Die ouers se lang werksure lei daartoe dat hul rol as die primêre versorger en die persoon van wie die kind taal leer, verskuif na die versorgers in crèches of na dagmoeders. Die versorgers bevind hulle binne ’n besonder veeleisende en verantwoordelike situasie. “Dit sal die pogings van die armes self wees wat hierdie probleem sal omkeer en nie die werk van geleerdes of groot insette van geld nie. Die antwoord lê opgesluit in die harte van die mense, naamlik kennis, ’n ingesteldheid en liefde.” Alfreda wil haarself graag beskikbaar stel as spreker vir groepe wat belang stel in die taalstimulasie van jong kleuters en/of die opleiding van versorgers. Daardeur beoog sy om mense wat omgee, verder in te lig en te inspireer tot aksie om ’n verskil te maak in die toekoms van ons kinders. Vir verdere inligting, kontak Alfreda by 021-873-4409 of 082-085-1720.
More
News
|