Op pad na die sterre
2011-02-24
Lise Beyers
JAN-BEYERS JONKER reik nie na die sterre nie, hy is reeds op pad daarheen. Jonker (16) het so pas ’n beurs losgeslaan om vir drie jaar by die New York Filmakademie te studeer in Amerika. Hierdie Boishaaier wat vanjaar in graad 11 is, was verlede jaar ’n finalis van die SA Talentkampioenskappe en hierna is hy genooi om aan ’n internasionale talentkompetisie deel te neem in Orlando, VSA. En voordat hy weer sy oë kon uitvee, is hy op pad na New York om sy drome te vervul. Jonker kan steeds nie sy skielike weg na die sterre glo nie. “Alles het so vinnig gebeur. Ek is in Januarie na Orlando en daar het honderde kinders van dwarsoor die wêreld deelgeneem aan die talentkompetisie. “Toe ek per e-pos ingelig is dat ek ’n beurs ontvang het, dog ek eers dis ’n grap.” Jonker was van kleins af permanent aan die sing. Hy het hierdie talent oënskynlik van sy ma, Zeta, geërf. Op agtjarige ouderdom het hy met drama-klasse begin. In die Paarl het hy onderrig ontvang van musiekman, Andrew Strauss, en drama-afrigter Wiwe Ras-Pretorius. Steeds bly sy hart by musiek en sy droom is om eendag ’n volwaardige musiekkunstenaar te wees wie se naam op almal se lippe is. Hy sing graag klassieke-rock en glo dat die rock-sangers van ouds tydlose treffers uitgereik het, nie soos die “24-uur sensasies” van vandag nie. Hy het juis sy beoordelaars in Orlando bekoor met die ‘70’s rock-groep, Journey, se ‘Separate Ways’. Hy het tweede geëindig as die beste tienersanger en was vierde geplaas as beste kommersiële tienerakteur. En tydens Jonker se besoek aan Orlando, het hy ook ’n modelkontrak losgeslaan, wat vir hom ’n hele paar dollar in die sak gaan bring. In New York gaan Jonker hom nie net toespits op die kunste nie, maar hy gaan voort met sy skoolloopbaan deur tuisskoling. Hy beoog om hom reeds volgende kwartaal in die ‘Groot Appel’ te vestig. Dit is nie te betwyfel nie dat Jonker in die voetspore van Charlize Theron wil volg. Sy was immers ook ’n student aan die New York Filmakademie.
More
News
|