Franschhoek CLC spog met merietetoekenning
2011-03-10
Abrie Burger
Franschhoek CLC, die aandskool in Groendal, het vir die eerste keer in sy bestaan van 15 jaar ’n merietesertifikaat vir akademiese voortreflikheid gekry. Dié toekenning was vir die vak Reis en Toerisme, waarin hulle die beste van al die sentrums in die provinsie gevaar het. Olvin Roman, sentrumbestuurder, sê belangstelling in die skool is ook deesdae beter, en getalle het begin toeneem. “Ons het nou 87 lede met nog 62 in die De Waal-omgewing. Meer jongmense begin ook nou aansluit by die aandskool.” Roman sê die ouer garde in die skool neem onmiddellik die rol as beskermheer van die jonges oor en help en motiveer hulle. Die aandskool bied aan die vakke Reis en Toerisme, Aanvullende Gesondheidsorg, Lewensoriëntering, Wiskunde, Afrikaans en Engels. “Ons bied vakke aan wat verband hou met werksgeleenthede in die area, sodat leerders werk kan kry.” Belangstellendes wat by die aandskool wil aansluit, kan nog tot einde Maart registreer. Ekstra klasse sal aan hulle gegee word om in te haal by die werk wat reeds gedek is. “Plasingstoetse word gedoen om ’n beeld te gee op watter vlak die leerder is.” Roman sê die grootste uitdagings waarmee die aandskool sukkel, is dat hulle nie hul eie sentrum het nie, en moet gebruik maak van Groendal Sekondêr. Sy sê dit is moeilik gedurende wintertye, veral met vervoer. “Ons kan dan net saans opereer. Vir baie is dit gevaarlik om na die skool te gaan.” Enigeen wat by die skool wil aansluit of enige skenkings wil maak, kan Olvin Roman by 082-487-7266 kontak.
More
News
|