Dronk van slanggif
2005-10-13
HY weet hoe dit voel om dronk te wees, al kom die deurmekaarkop nie van drank nie.
Danie Malherbe, die Paarl se bekende slangman, is in die 51 jaar dat hy met slange werk al honderde kere gepik deur nie-giftige slange.
En drie keer ook deur gevaarlike slange met gif wat ’n mens laat voel asof jy ’n halwe bottel brandewyn gesluk het, sê Danie ondeund.
Dit was ’n adder, ’n mamba en ’n kobra wat te vinnig was vir hom.
Maar die onverskrokke slangman het nie dokter toe gejaag nie. Hy het onmiddellik ’n spesiale apparaat oor die tandgaatjies gedruk en die gif so uitgesuig. (Dié apparaat - soos ’n inspuiting - is by die slangpark beskikbaar.)
Daarna het hy die dronkkop en die hoofpyn maar uitgesit, met sy vrou Petro wat “op bystand” moes bly “net vir ingeval”.
Danie het onlangs die Vonds slangsentrum verkoop wat hy byna tien jaar gelede aan die R45, die Noorder-Paarl/Wellingtonpad geopen het.
Die nuwe eienaar is Riaan Jordaan, self ’n slangkenner wat al jare lank by Danie kers opsteek. Danie gaan nog twee jaar lank by Die Vonds betrokke wees voordat hy gaan aftree.
Die aftreeplekkie is glo êrens in die Moordenaarskaroo, met baie slange en baie wild, maar min mense en moeilikheid, lag hy.
Intussen is hy steeds “op roep”, vir die slange wat in Paarl en Wellingtonse huise en tuine die inwoners die skrik op die lyf jaag.
Boere sal hom ook nog steeds kan naderroep wanneer die werkers nie wil pruime pluk omdat daar ’n kobra of ’n boomslang in die boord is nie.
Die hulpverlening is gratis (al is ’n donasie altyd welkom), en vir die brandstof om by probleemreptiel te kom, moet die inbeller opdok.
By die slangpark, ’n teling en bewaringsentrum, is meer as 500 slange van 46 spesies te sien. Daar is ook skilpaaie, likkewane, akkedisse en talle rare voëls.
Die sentrum is Maandag tot Vrydag van 09:00 tot 17:30 oop vir besoekers, en Sondae van 11:00 tot 17:00. Die ingangsfooi is R25 (R15 kinders), met spesiale tariewe vir groepe.
Skakel 869-8309 vir navrae en besoeke, en 873-3051 vir Danie persoonlik.
* The snake centre on the Paarl-Wellington Road has changed hands, but snake expert Danie Malherbe remains on call for the many local emergencies.
More
News
|