Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Ou dame staan weer op

Ou dame staan weer op
 
2011-03-24

Lise Beyers

DRIE jaar nadat die historiese Huis Cummings, koshuis van Hugenote Kollege, in puin gelê is deur ’n verwoestende brand, is die eerste fase van herstelwerk pas voltooi.

Hierdie fase behels die beskerming van die gebou teen verdere verval weens die elemente soos reën en wind.

Die brand het ontstaan in die nag van 13 Mei 2008, vermoedelik weens ’n kortsluiting in ’n verwarmer in een van die studente se slaapkamers.

Dit het vinnig versprei weens die hoeveelheid houtafwerking, veral die dakkappe van die historiese sandsteen- en granietgebou.

Sedertdien het Huis Cummings, wat in 1896 opgerig is, verlate gestaan terwyl die eienaars daarvan, die Wes-Kaapse Sinode van die NG Kerk, besluit het wat die toekoms van die gebou is.

Bo en behalwe die feit dat die versekeringsgeld wat vir die skade aan die gebou uitbetaal is onvoldoende sou wees om die hele gebou te herstel, is die fondse eerder gebruik vir onder andere noodbehuising van studente wat ná die brand dakloos gelaat is.

Maar uiteindelik is daar, danksy druk op die sinode deur van verskeie inwoners van Wellington, asook historici, ’n daadwerklike projek aangepak om Huis Cummings te begin herstel.

In die eerste fase is die dak herbou en die skuifraamvensters vervang.

Die werk is aangepak deur Franschhoek Meesterbouers en plaaslike argitekte, Malherbe Rust, wat bekend is vir die restourasie van historiese geboue.

Die veiligheidsadviseur vir die Boland Meesterbouers Assosiasie, Rudolf Murray, het gesê dat hierdie assosiasie baie trots is op die werk wat tot dusver aan Huis Cummings, wat in 1896 gebou is, uitgevoer is.

Die spitsdak moes van vooraf herbou word en kan as ’n tegniese meesterstuk beskou word.

“Uit ’n veiligheidsoogpunt was die steil helling van die dak ’n reuse-uitdaging. Dit is spesialiswerk wat nie enige bouer sou kon verrig nie. Die dak rus slegs op die buitenste granietmuur van die gebou.”

Verder moes skrynwerkers ’n ingewikkelde web van houtwerk bou as die basis van die dak.

Om die veiligheid van werkers te verseker terwyl die dak gebou is, is steierwerk reg rondom die gebou geplaas, waaraan werkers met veiligheidsharnasse gekoppel is.

“Desnieteenstaande is die projek afgehandel sonder enige voorvalle of beserings van enige aard - onses insiens ’n merkwaardige prestasie.”

Alhoewel die oorspronklike teëls van die dak van leiklip was, lyk die nuwe teëls wel na leiklip, maar is van ’n nagemaakte materiaal vervaardig wat meer koste-effektief is. Die vensterrame is volgens spesiale spesifikasies gemaak.

Maar daar lê nog ’n lang pad voor, voordat Huis Cummings na sy vorige glorie herstel sal word.

Weens die erge waterskade wat tydens die brand aan binnemure en houtwerk aangerig is, sal dié alles vervang moet word.

En wanneer dit plaasvind, sal dit ook die einde van ’n boutegniek beteken. ’n Groot deel van Huis Cummings se binnemure is van riet en modder gebou en sal nie gered kan word nie. Wanneer hierdie herstelwerk aangepak word sal, dié mure dus deur nuwe droë-mure vervang word.

Hugenote Kollege kon nog nie vrae beantwoord oor wanneer die volgende fase van herstelwerk voortgesit sal word nie. Maar wanneer die ou dame eendag herstel is, sal sy waarskynlik as kantoor benut word.




More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za