Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Waarheen dan, Gehasi?

Waarheen dan, Gehasi?
 
2011-03-31

Abrie Burger

MET ’n hele reeks ongelukke wat die afgelope paar maande op die Franschhoek-pad, die sogenaamde pad van die dood, plaasgevind het, is daar sommiges wat meen die pad is gevaarlik, terwyl ander meen motoriste moet net meer geduldig wees.

Vier mense het in Januarie op die Franschhoek-hoofpad (R45) gesterf. André Voges, die bestuurder van ’n Fiat Uno, het sowat ’n maand gelede met ’n vragmotor gebots en is op slag dood. Sy passasier, Julie Helmie (37), is kort daarna op die toneel dood.

’n Vorige ongeluk, waarin broers John (48) en Floors Kamfer (49) ook dood is, word ook steeds ondersoek.

Jack Daniels, ’n onderwyser by Groendal Primêr, woon in die Paarl en ry die besige pad elke dag: “Die oppervlak kan verbeter word, want hy’s baie hobbelrig en nie breed genoeg nie.”

Donovan Mackier, ’n onderwyser by Groendal Primêr wat ook daagliks uit Paarl na Franschhoek ry, sê hy is ’n baie veilige bestuurder en is glad nie haastig op die pad nie: “As jy vroeër ry, hoef jy glad nie te haas nie.”

Russel Cyster van Franschhoek sê spitstyd is ’n baie onveilige tyd om gebruik te maak van dié pad: “Omdat die pad so breed is, maak die manne gebruik daarvan om ander teen hoë spoed verby te steek.”

Samegha Khan, adjunk-hoof van Groendal Primêr, sê elkeen moet net die reëls gehoorsaam en meer verdraagsaam wees: “Dis motoriste se plig om vroeër te ry.

“Die oplossing begin by die mens self. Almal moet net meer geduldig wees en hul oë oophou om ongelukke te vermy.”

Jan Cilliers, skoolhoof van Franschhoek Hoërskool, sê die feit dat so baie noodlottige ongelukke reeds gebeur het, is kommerwekkend.

“Iets moet daaraan gedoen word. Verkeer op die pad is swaar en daar is ook ’n toename in swaarvoertuie. Jy kry baie mense wat kanse vat.

“’n Verkeerslig by die La Motte-kruising sal ’n oplossing wees, maar ek dink die Departement van Vervoer tesame met die provinsiale verkeersafdeling sal ’n ondersoek moet loods en dan met ’n oplossing kom.”

Jacq-Louie Manuel, wat publieke vervoer op die pad, meen dat dit wel gevaarlik is: “Hier gebeur baie ongelukke, omdat mense teen ’n gevaarlike spoed jaag.”

Arleon Davids, wat uit Agter-Paarl tot by sy werk in Franschhoek ry, sê hy vind die pad glad nie gevaarlik nie: “Daar is net baie afdraaie en dit is eintlik die toeriste wat soms gevaarlik ry as hulle afdraai. Dit is hoekom ongelukke helder oordag gebeur.”

Nog ’n inwoner, Lodine Maske, stem saam: “Een van die probleme is dat toeriste soek-soek ry. Die bestuurders sien nie die borde met die name betyds nie, en trap soms onverwags rem by afritte, sonder om flikkerligte vroegtydig aan te sit.

“Die pad dra boonop baie swaar verkeer, veral in spitstye vroeg soggens en ook wanneer skole uitkom, en mense ry dikwels te vinnig.”




More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za