Dis 'n lang pad van Kakamas
2011-03-31
SOOS ’n toneel uit ’n Bybelverhaal, het twee mans die afgelope naweek die Paarl binnegekom aan die sy van twee kamele. Die groepie het talle koppe laat draai in ongeloof. Die mans, Jan Arends en Koos Smit, het saam met die kamele, Aziz en Simon, die lang pad aangedurf vanaf Kakamas in die Noord-Kaap na die Paarl, om Angus Buchan se Mighty Men-byeenkoms verlede naweek in die Agter-Paarl by te woon. Deel van hul kruistog van twee maande was om Bybels langs hul pad uit te deel aan behoeftiges (Bibles for Believers), asook om sendingwerk en berading te doen. Arends het gesê dat die hele konsep om met kamele die land te verken, juis ontstaan het as ’n Bybelse simbool van hoop. Die mans en kamele het al vantevore 1500km afgelê, toe hulle vanaf Kakamas na Heidelberg gestap het. Hulle het verlede week ná die Mighty Men-byeenkoms besoek afgelê in Wellington waar hulle by skole getuienis afgelê het. Saterdagaand het hulle oornag in die binnehof van die NGK Wellington-Oos, en is die volgende oggend deur die gemeente verwelkom. Sondagaand het hulle oornag by die Bikers Church wat geleë is agter On-Tap in Jan van Riebeeckrylaan, en Maandag het hulle die laaste been van hul reis afgelê na Stellenbosch. Wanneer hulle hul eindbestemming behaal, sal hulle 850km per voet afgelê het. Die kamele sal dan per vragmotor terugvervoer word na Kakamas en, sê Arends, dan sal hy en Smit eers hul voete ’n bietjie rus voordat hulle besluit waarheen die lang pad hulle volgende sal neem.
More
News
|