Opleidingsentrum loods mentorprogram
2011-04-07
Johan Nel
DIE Wamakersvallei-opleidingsentrum op Wellington, het pas met ’n splinternuwe mentorskapprogram begin. Eunice Ralarala, wat reeds die sentrum se kursusse in babasorg en tuisversorging suksesvol voltooi het, het pas die eerste persoon geword wat in die sentrum se nuwe mentorskapprogram opgeneem is. Die sentrum sal as mentor optree vir Eunice se nuwe onderneming, Grateful Cleaning and Catering, waarmee sy van plan is om kontrakte te beding vir die skoonmaak van huise en sakepersele en om onder meer voedingskemas vir skole te help reël. Een van die heel eerste kontrakte wat sy reeds suksesvol gesluit het, is om ’n sopkombuis vir 35 skoolkinders op plase om Wellington op die been te bring. Volgens Moggee beskou Wamakersvallei-opleidingsentrum die nuwe mentorskapprogram as die ideale geleentheid om studente van die sentrum verder te bemagtig om hulle lewensomstandighede dramaties te verbeter. Dit bied ook aan die sentrum die geleentheid om vinniger werk te genereer vir studente nadat hulle kursusse van die sentrum suksesvol voltooi het. Moggee het ’n beroep op instansies gedoen om die sentrum met borgskappe te ondersteun en ook om as vrywilligers die studente in die ontwikkelingsprogramme vir entrepreneurs te kom ondersteun. Die sentrum se volgende kursusse in tuisversorging en kleutersorg sal in Engels aangebied word en begin op 18 April. Die kursus in huishouding en kookkuns is ’n tweetalige kursus vanaf 14 April. Belangstellendes kan nou reeds daarvoor registreer. Vir meer besonderhede oor die mentorskappe en oor die nuwe kursusse, skakel 021-873-5942.
More
News
|