Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Lang wag vir nuwe polisiestasie

Lang wag vir nuwe polisiestasie
 
2011-04-07


DAAR was groot opgewondenheid verlede jaar toe dit gelyk het asof die bou van ’n nuwe polisiestasie vir Wellington uiteindelik ’n werklikheid sou word.

Maar daar heers nou weer ’n wanhopige atmosfeer by hierdie gebou op die hoek van Jan van Riebeeck- en Malherbestraat.

Hierdie polisiestasie is byna ’n eeu gelede gebou, met die doel om slegs 25 beamptes te huisves. Maar intussen het hierdie getal tot meer as 130 lede uitgebrei, en bars hulle nou behoorlik uit hul nate.

Werkspasie is beperk en tussendeur is die gebou besig om agteruit te gaan.

Onder die probleme is verf wat afdop van die mure af, en dakke wat lek. Daar is nie genoegsame toiletgeriewe vir personeel nie, asook minimale kombuisgeriewe.

In sommige kantore werk tot 10 beamptes ingedruk met beknopte lessenaarspasie.

Lede van die publiek skuur teen mekaar in die oorvol kantore asook in die piepklein aanklagkantoor, wat veral oor naweke tot oorlopens toe vol kan wees.

Hulle ondervind ook dikwels kragonderbrekings weens die oorlaaide, outydse elektriese skakelbord.

Daar is op die perseel ook drie houtstrukture opgerig om kantoorspasie te skep, maar in die somermaande verstik beamptes behoorlik hier, wanneer binne temperature tot byna 50°C styg.

En om letterlik brandstof op die vuur te gooi, vrees beamptes vir hul veiligheid weens ’n ondergrondse petroltenk wat in onbruik is. Daar word glo steeds duisende liter brandstof daarin geberg.

Om nie te praat van die parkeergebied in die agterplaas vir amptelike voertuie nie. Hiér moet bestuurders behoorlik hulle ry ken om te kan in en uit, en dit belemmer ook reaksietyd ingeval van ’n noodgeval.

Alhoewel kantore uitgebrei is na die aangrensende stasiebevelvoerderswoning en die speurtak geskuif het na Hoofstraat , is die werksomstandighede vir polisiebeamptes byna ondraaglik weens die argaïese toestande van die ou geboue.

Verlede jaar was daar lig aan die einde van die tonnel toe dit bekend gemaak is dat staatsgrond op die hoek van Pentz- en Swartzstraat, geoormerk is vir die oprigting van ’n nuwe polisiestasie vir Wellington.

Volgens ingeligtes was ’n nuwe Wellington polisiestasie op die prioriteitslys van die Departement van Veiligheid.

Maar dit het onlangs aan die lig gekom dat hierdie projek opsy geskuif is vir wat slegs genoem word ‘meer knellende’ prioriteite van die Departement van Veiligheid.

Toe die bouplanne verlede jaar bekend gemaak is, is daar verwag dat die nuwe polisiegebou binne twee jaar in werking kon wees. Maar hierdie blink hoop vir Wellington het nou soos mis voor die son verdwyn.

Die provinsiale polisiehoofkantoor het teen druktyd nog nie gereageer op vrae oor die Wellington polisiestasie nie.

* Dreams of a new police station for Wellington have been shattered as this project has now been put on hold.




More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za