Van dwelm-verslaafde tot berader
2011-04-14
Lise Beyers
Aan die woord is Morné van der Westhuizen, dwelm-berader van New Life Ministries in die Paarl, self ’n voormalige dwelmverslaafde. Vir jare het Morné nie net sy eie lewe verwoes met dwelms nie, maar ook van dié wat naaste aan hom was. Maar na ’n lang stryd en uiteindelik ’n agt maand lange intensiewe genesingsprogram by die Nieuwefontein rehabilitasie-sentrum naby De Aar, kan Morné vandag met trots sy kop omhoog hou en nou sy lewe daarop toespits om ander verslaafdes te help. “Inwoners van die Paarl besef nie watter groot probleem dwelmmisbruik, veral onder jongmense, hiér is nie.” “Ek kom daagliks in aanraking met verslaafdes, asook hul families. Dwelmverslawing ken geen grense nie. Dit vind plaas onder mense van alle rasse en klasse.” Morné vertel van een voorbeeld van hoe dwelmverslawing ’n eens doodgewone middelklas gesin van die Paarl geraak het. “’n Jong man wat op skool uitgeblink het op die krieketveld en wat heel skaflik akademies gevaar het, sit vandag agter tralies weens sy verslawing aan Tik. “Sy pad het lelik skeefgeloop toe hy met die verkeerde vriende begin meng het en onder druk, dagga begin rook het. Dit het binnekort gelei tot Tik en hierdie dwelm is die gevaarlikste van hul almal. “Dit vernietig nie net jou lewe en gesondheid nie, maar die lewens van jou naaste ook. “Die jong man het als in sy ouerhuis begin steel wat hy kon verkoop. Van meubels, elektroniese goedere, tot klere en selfs kos.” En hiermee is die hele huisgesin ook verskeur, byna uitmekaar uit en finansieel geruïneer. Maar onlangs het sy familie besluit tot hier toe en nie verder nie. Toe hy weer iets vanuit die huis steel, die keer net ’n hemp van sy broer, is ’n saak van diefstal teen hom gemaak by die Paarl polisie. Hy is summier toegesluit by Allandale-gevangenis, en sy familie weier om sy borggelde te betaal totdat hy toestem tot behandeling. Hy ontvang tans berading van Morné in die gevangenis. “Hierdie is maar ’n enkele geval van die vele waarmee ek te doene kry. Dit is hartverskeurend om te sien hoe families verpletter word hierdeur. ’n Ma bly ’n ma en sal altyd haar kind wil ondersteun. Maar in hierdie geval moes sy harde-liefde uitvoer. “Die groot probleem waarmee ons sit is die ontoeganklikheid tot genoegsame rehabilitasiefasiliteite.” Volgens Morné is daar ’n waglys van tot 8 maande vir verslaafdes om opgeneem te word by staatsinstansies. En dan is privaatinstellings aan die anderkant peperduur. “Wat ons by New Life Ministries bied, is berading vir beide slagoffers van dwelmverslawing en hul families. “Ons toets mense hier om te bevestig dat hulle dwelms gebruik. En dan help ons hulle om opgeneem te word by die regte instansie. “Omdat ek self hierdie pad geloop het, stel ek voor dat die verslaafde ’n intensiewe maandelange program volg by byvoorbeeld Nieuwefontein en/of Noupoort. ’n Kits-kursus vir Tik-verslaafdes werk eenvoudig nie.” Dan wanneer dié persoon weer in die samelewing toegelaat word, begelei New Life Ministries hulle elke tree van hierdie swaar pad. “Dit is vir hulle baie moeilik om weer die wye wêreld in die gesig te kyk, asook diegene wat hulle so teleur gestel het in hul pad van verwoesting. Ons help ook met werkgeleenthede, asook enige bystand wat hulle mag benodig.” Morné kan gekontak word by 071-484-1859.
More
News
|