Herwinning skop 24 Mei af in Paarl
2011-05-12
DIE herwinning van afval op Wellington is so suksesvol, dat dieselfde deur-tot-deur-stelsel nou in Paarl-Wes (Wyk 15 en 4) gaan afskop op 24 Mei.
Herwinbare materiaal sal weekliks reg voor elke inwoner se deur opgelaai word deur ’n kontrakteur. Om deel te word van die nuwe Besin-en-Herwin-roetine hoef inwoners slegs hulle herwinbare materiaal gedurende die week in ’n aparte deursigtige sak te plaas wat gratis deur die Munisipaliteit verskaf sal word. Wanneer hulle dan hulle roldromme met die gewone vullis uitsit, plaas hulle eenvoudig die sak bo-op of langs die drom. Wanneer díé rommel verwyder word deur die herwinningsvragmotor, word ’n nuwe plastieksak agtergelaat vir die volgende week se afval. Herwinbare goedere sluit in plastiekhouers, skuimplastiek, blikke (uitgespoel) en bottels (uitgespoel en sonder deksels of proppe) asook kartondose (wat platgedruk moet word). Die doel is om die hoeveelheid afval (sowat 300 ton per dag) wat vir storting gegenereer word in Drakenstein, te verminder. Boonop skep dit werkgeleenthede by dieterreine waar die herwinbare material gesorteer word. Om dit vir inwoners maklik te maak om te herwin, het die Munisipaliteit ’n kitsgidspamflet saamgestel wat duidelik uiteensit wát herwin kan word en wat níe, asook ’n vinnige verwysing yskasmagneet. Ander vullis kan steeds afgelaai word by die oorlaaistasie in Distillerystraat (Paarl) en die vullisterrein op Wellington. Vir navrae, terugvoer en nog inligting, kontak Drakenstein Munisipaliteit by 021-807-4715 (24 uur), besoek www.drakenstein.gov.za, of skakel Enviro Smart Waste Management by 072-306-3880. * Recycling will kick off in Paarl West on 24 May
More
News
|