Bekende Wellingtonse boer oorlede
2011-05-12
’n BEKENDE boer van Wellington, Danie le Roux van Laboroux-plaas, is onlangs skielik op 82-jarige ouderdom oorlede. Volgens ’n ou vriend, Francois Malan, het Le Roux van vroeg reeds ’n leidende rol in die plaaslike boerdery-gemeenskap gespeel. Hy was lank sekretaris en later voorsitter van die Wellingtonse Boerevereniging en hy was lid van die destydse Landbou-kredietkomitee wat saam met die plaaslike landdros aansoeke van boere vir staatslenings moes evalueer. Le Roux het baie jare as diaken en later as ouderling op die kerkraad van die NG Kerk Wellington-Noord gedien. Gedurende sy lewe was hy bekend as iemand met ’n oop hart vir mense in nood en vir die sending. Le Roux se plaas was oorspronklik bekend as Driefontein maar omdat sy neef, wat ook DJ le Roux was, se aangrensende plaas ook as Driefontein bekend gestaan het en aangesien hulle pos voordurend deurmekaar geraak het, het Danie le Roux later sy plaas se naam van Driefontein na La Boroux verander – dit beteken “hier werk die Le Roux’s”. Le Roux het aanvanklik op groot skaal met appelkose geboer en hy het later ook appelkose ingekoop om op groot skaal te droog. Namate die appelkoosbedryf begin kwyn het, het hy na wingerdbou oorgeslaan en meer aandag aan sy groot liefde, beesboerdery, begin gee. Hy het hoofsaaklik met Jersey-beeste geboer en nie alleen ’n groot melkkudde opgebou nie, maar ook beeste van skou-gehalte geteel. Danie le Roux word oorleef deur sy eggenote Susie, drie kinders, agt kleinkinders en ses agterkleinkinders.
More
News
|