Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Italianers se arbeid was ’n bonus

Italianers se arbeid was ’n bonus
 
2011-05-26

Johan Perold

DUTOITSKLOOF, daardie lappie aarde op die heup van Klein Drakenstein se bergreeks, was van outyd af iets besonders vir die mense van die Vallei.

Mense aan die Paarl-kant wou met mening ook dáár uit. Hulle wou ’n pad hê oor die berg. Maar geen regering van daardie tyd het kans gesien vir so ’n onderneming nie omdat dit te duur sou wees; ’n paar private ondernemings oor die jare het ook misluk.

En toe, teen 1940, al was die tweede wêreldoorlog reeds aan die gang, het die Nasionale Padraad besluit om te begin met die bou van so ’n pas deur Dutoitskloof.

Die pas sou ’n konstruksie wees van 46 kilometer lank tussen die Bergrivierbrug (Paarl-kant) en die Goudini-aansluiting aan die anderkant van die berg, kompleet met ’n tonnel onderkant die berugte moeilike Kleigat-deurgang. Die koste vir die projek is destyds op 750 pond (sterling) beraam.

En toe gebeur (waarskynlik) dit waarvoor nie begroot was nie, maar wat seker baie welkom was: onbeplande grootmaat-arbeid word Boland toe, Paarl toe, gestuur vanuit die oorloggeteisterde Noord-Afrika, waar duisende Italianers en Duitsers krygsgevangene geneem is. Dit was 70 jaar gelede.

’n Menigte van daardie Italiaanse krygsgevangenes is na Suid-Afrika toe gepos en het as geïnterneerdes in die Boland beland om as arbeiders op plase te werk, veral in die Paarl. Terwyl die oorlog aan die gang was, was plaaslike arbeid seker op verskillende fronte baie nodig en in aanvraag, daarom kon bykomstige mannekrag baie voordelig benut word by die pasbouprojek. Daardie bonus-arbeiders, die ekstras, was Italianers.

Om dit gerieflik te maak is daar toe besluit om die arbeidsmag van 500 (of meer volgens sommige bronne) so naby as moontlik aan die terrein te vestig. Daarom is ’n “tydelike” kamp op die plaas Keerweder aan die voet van die pas in Klein Drakenstein aangelê.

Hoewel die kamp as “tydelik” beskryf en sekerlik so bedoel was, het die manne die volle duur van hulle verblyf (terwyl die oorlog geduur het) in daardie kamp gebly waar hulle deel geword het, nie net van die konstruksiebedrywighede nie, maar tot ’n mate ook van die boerderygemeenskap waar goeie verhoudings gebou is.

Toe hulle teen 1945 gerepatrieer sou word, wou ’n paar van hulle ’n tasbare simbool laat, om behalwe ter herinnering aan hulle gesneuwelde makkers, ook as ’n groet aan die plaaslike gemeenskap te laat.

Hulle het ’n kruis van houtpale, vyf meter hoog, teen Miaspoort uitgedra en op Hugenotekop geanker om oor die pas af te kyk.

Hermanus Le Roux van die plaas Palmietvlei, ook in Klein Drakenstein, was toe sommer nog ’n jong knaap en het belowe om om te sien na die behoud van die struktuur.

Teen 1956 het daardie houtwerk so erg verweer dat Klein Drakenstein se boere, onder aanvoering van Hermanus self, besluit het om die struktuur te vervang met teerpale.

Dit het ses man sewe ure geneem om daardie vrag van 80 kg deur die poort op te dra tot bo-op die kruin. Maar hulle was tevrede. Hulle het woord gehou. Die gedenkkruis was terug in plek.

Hoewel dáárdie bousel baie stewiger was, is dit in 1984 tydens ’n storm gedurende die herfs, so beskadig dat ’n nuwe ontwerp nodig was. ’n Nuwe ontwerp van vleklose staal, ses meter hoog, is vervaardig en met ankerkabels beveilig, beter bestand teen al die elemente van die natuur.

Baie meer instansies het belang gestel en het deelgeneem aan die nuwe oprigting: die boere van Klein Drakenstein, die Paarl Bergklub, die Junior Rapportryers en die nuwe kruis is tot sy plek vervoer met ’n SA Weermag-helikopter.

Maar in 2002 het storms weer eens daar op Hugenotekop verwoesting gesaai, die kabels afgeruk en die kruis platgeslaan. In antwoord daarop het ingenieurs wat weer eens ’n nuwe ontwerp gedoen het, ’n spilgewrig op die basis bygevoeg om die struktuur minder rigied (en meer stormbestand) te maak.

Belangstelling om mee te doen het verder uitgekring. Plaaslike boere het weer deelgeneem aan die oprigting, asook die Bergklub, Limietberg Natuurreservaat en persone uit die plaaslike Italiaanse gemeenskap.

Spierkrag, ondersteun deur helikopterhysing, het nog eens ’n kruis geplaas wat duidelik van die pad af gesien kon word.

Wat as ’n nederige simbool van respek en van onthou geloods is, het ’n welbekende baken geword.

Elke persoon wat Hugenotekop met die kruis daarop besoek het, sal getuig van die wonderlike atmosfeer en uitsig oor die Vallei. Dit is die rede waarom dit ’n populêre roete vir stappers van die Bergklub is.




More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za