Voortvlugtige gevang
2005-10-20
’n JONG man van Noorder-Paarl wat van die polisie gevlug het toe sy roofmakker onlangs vir vyf jaar tronk toe gestuur is, is onlangs aangekeer.
Johannes Jacobs (28) van Moederkappiestraat het die dag toe hy gevonnis moes word, versuim om by die streekhof op te daag.
Hy is met ’n vorige verskyning skuldig bevind aan roof, en sy borgtog is toe verleng tot vonnisoplegging.
Jacobs sou vir die diefstal van ’n selfoon en kontant gestraf word, met inagneming van ’n vorige opgeskorte vonnis vir ’n soortgelyke oortreding.
Jacobs het skuldig gepleit saam met ’n makker, Reinardt Niemand. Niemand is tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis, maar Jacobs was nie by die hof om sy vonnis aan te hoor nie.
Jacobs, van La Uva woonstelle, het sy hare donker gekleur en die polisie ontduik deur tussen die Paarl en Wellington te beweeg.
Onlangs het hy na Mosselbaai uitgewyk, waar hy die naweek in hegtenis geneem is vir diefstal.
Hy word nog hierdie week aan die polisie in die Paarl uitgelewer.
* Police nabbed a fugitive.
More
News
|