Kunstenaar oorlede
2005-10-20
’n JONG kunstenaar van Wellington het verlede week gesterf nadat hy enkele dae tevore ’n hartstilstand gekry het.
Gerdte Terblanche (28), seun van die president van die Wellington gholfklub, was breindood ná die hartstilstand in sy woning in Vredehoek.
“Hy was ons vreugdekind,” het sy moeder, Isabel, hierdie week gesê, “’n tipiese kunstenaar wat aan almal liefde en vrede gebring het.”
Gerdte het ná matriek aan die Hugenote Hoërskool by CityVarsity in Kaapstad webwerfontwerp en multi-media studeer. Skryfwerk was sy groot liefde.
Hy het onlangs gekla dat hy so lam voel dat hy nie eens kan opstaan nie. Sy moeder het voorgestel dat hy sy bloeddruk laat toets, maar sy het nog nie die uitslag gehoor nie, toe hy die aanval gekry het.
“Maandag het ons van hom afskeid geneem met ’n diens in Kirstenbosch,” het Isabel vertel.
“Dit was soos hy dit sou wou hê, met ’n waterstroompie wat biggel, sy vriende elk met ’n glasie wyn, en ds Fanie Marais wat so mooi gepraat het.”
Benewens sy ouers Ferrus en Isabel, ’n ouer broer en suster, word Gerdte ook oorleef deur Janine Tilley, die meisie met wie hy in Mei sou trou.
More
News
|