Boerseun sterf in wingerd
2005-10-20
DIE ure van die dag was vir Kobus le Roux altyd te min en niks was vir hom te veel nie.
So onthou Wellingtonners die jong man wat verlede week beheer oor ’n motor verloor en in ’n wingerd kort voor sy pa se plaas aan die Bo-Hermonpad gesterf het.
Kobus le Roux (21) van Laboroux plaas het na matriek aan die Hugenote Hoërskool in Amerika gaan werk, maar hy was binne drie maande terug. Hy het te veel na sy familie en sy vriende verlang.
Hy het nou as plaasbestuurder in die Bovlei gewerk.
Donderdagnag is hy op slag dood toe die motor wat hy bestuur het die pad verlaat en deur die lug getrek het.
Hein van der Spuy, lid van die plaaswag wat om 02:00 met sy bakkie met sterk dakligte by die inrit na die plaas Olifantskop gepatrolleer het, het remmerke op die pad gesien en die rooi voertuig in die opleiwingerd opgemerk.
Met die Polo se registrasienommer is die eienaar opgespoor, Kobus se vriendin van drie jaar, Leané Muller. Hulle was die aand saam by ’n familie-viering in die Paarl.
“Kobus het altyd almal om hom gelukkig gemaak,” het sy familie onthou.
Hy word oorleef deur sy ouers Kobus en Elize, ouer broer en suster Danie en Marilize Nel.
Só baie vriende en familielede het Dinsdag met 'n gedenkdiens afskeid geneem dat stoele in die Wellington-Oos NG kerk ingedra moes word.
Die plaasseun is die derde oud-Hugenoter wat hierdie maand skielik gesterf het.
Kobus Brits (27) van die plaas Soetendal aan die Hermonpad, is voorverlede naweek in ’n motorongeluk tussen Wellington en Mooreesburg oorlede.
En Vrydag het Gerdte Terblanche (28), gesterf ná ’n hartstilstand in sy woning in Vredehoek (berig regs).
More
News
|