Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Dankbare oupa kry sy bakkie terug

Dankbare oupa kry sy bakkie terug
 
2005-10-20

Malané Bosman

OP 77 het ’n Paarlse oupa ’n handvol helde gekry, ’n span polisiemanne wat sy aftree-bakkie uit die kloue van ’n motordief gegryp het.

Paul Adams van New Orleans het Vrydag oudergewoonte halfagt voor Jimmy the Fish in die Hoofstraat geparkeer en sy bakkie toegesluit.

Daarna het hy sy kleindogter veilig oor Gimnasiumstraat tot by die laerskool besorg.

“Toe ek by die plek kom waar die bakkie gestaan het, was hy weg,” het Adams onthou.

“’n Polisievoertuig het verbygery, maar te vinnig. Net toe kom nog polisie. Ek het nog net die eerste syfer van die nommerplaat onthou en my storie net half vertel, toe is hulle op die radio.

“En dit was skaars 40 minute later toe hoor ek die bakkie is veilig. Sowat van doeltreffendheid maak my baie, baie gelukkig.”

Polisiemanne het uit die Paarl met die N1 langs gejaag, in die rigting van Khayelitsha.

Beamptes van die Maitland blitspatrollie het uit die Skiereiland gejaag, en uit die Paarl was konstabels Conway Benjamin, Jaco Stadler en Thabang Tsulo haastig op sy hakke.

“En toe het ons hom by die Okavango-afrit. Die man het uitgespring en ons is te voet agterna, oor mure en deur erwe,” het Stadler vertel.

Die aangehoudene sê hy is 19 jaar oud en van Langa. Alhoewel hy ’n vals naam verskaf het, het sy vingerafdrukke getoon dat hy op ander aanklagte in Durbanville gesoek word. Die bakkie is met ’n duplikaatsleutel oopgesluit.

’n Oorblufte Adams het sy bakkie heelhuids teruggekry, en Maandag was hy weer met sy kleindogter en haar koffertjie by die skool.

“Ek het die bakkie in 1991 met my aftreegeld gekoop. Dis ’n baie
spesiale bakkie dié, wat ek vir altyd wil hou. Die kinders spot juis al oor wie hom gaan erf,” het die vriendelike oupa geglimlag.

* Ook kort voor agt Vrydag is ’n soortgelyke Toyota in Concordiastraat in Suider-Paarl gesteel.

Derek Clift het skaars sy geel- en bruinkleurige bakkie voor die graniet-werkswinkel geparkeer, of dit het voete gekry.

“Die dief het ’n te groot voorsprong gehad, met dié diefstal soveel nader aan die N1,” het konst Benjamin gesê.

Julian Reynolds se groen 1200 Datsun motor is wel teruggevind nadat dit verlede week in Treurnichtstraat, Vrykyk, gesteel is.
Die motor was egter kaalgestroop teen die tyd dat dit Sondag in
Khayelitsha gevind is.

Donderdag verlede week is daar twee keer gepoog om Mazda motors in die Paarl te steel, in die Bergrivier Boulevard en in die Hoofstraat oorkant die Strooidakkerk.

* Police in overdrive managed to retrieve a Paarlite’s retirement vehicle from the clutches of a thief.



More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za