Sy kla nooit...
2005-03-24
Engela Duvenage
HONDERD jaar oud, en sy’t nog nooit ’n mediese eis ingedien nie. Só vertel Rita Dixon van Wellington oor haar ma, Anna Burger, wat verlede week haar 100ste verjaarsdag gevier het.
“In al die jare het sy nog nooit gekla oor enige kwale of pyne nie.” Tannie Burger, soos dié honderdjarige alombekend is in Silwerkruin ouetehuis, is eintlik nog gesond, vertel haar dogter.
Weens haar hoë ouderdom is sy egter erg verswak en moet sy spesiale aandag in die siekeboeg kry.
Sy kom uit ’n familie van mense met sterk gene. Haar suster, Baby Pienaar van Riviersonderend, is verlede maand op die rype ouderdom van 101 oorlede.
Tannie Burger is al 23 jaar lank ’n inwoner van Silwerkruin, en is al sedert 1943 ’n Wellingtonner toe sy en haar man, Koos, saam met hul familie uit Tulbagh daarheen verhuis het.
Albei is gebore Weskusmense. Haar man, wat lank op die Spoorweë werksaam was, het haar in 1986 ontval.
Die egpaar het twee dogters en twee seuns gehad. Die twee seuns is reeds oorlede, maar tannie Burger se dogters, Rita van Wellington en Bessie de Kock van Worcester, kon die Sondag saam hul ma se verjaarsdag vier.
’n Spesiale koek is vir die geleentheid deur die Koffiehuis geskenk. “Sy was ’n goeie ma vir ons, en het vir ons ’n goeie opvoeding gegee,” onthou Rita.
Tannie Burger het tien kleinkinders, en kan reeds spog met vyf agteragterkleinkinders.
More
News
|