Een hond tuis, nóg een gesteel
2011-06-02
Lise Beyers
TERWYL een gesin vandeesweek oorstelp van vreugde is om herenig te word met hul gesteelde hond, is ’n ander gebroke weens die verdwyning van hul geliefde familiehond. Twee weke gelede is ’n pitbulterriër van André Coetzee en Lizanne Visser gesteel by hul woning by Boroch-keerweg in Noorder-Paarl. Visser vertel dat ’n bakkie met drie mans by dié straat ingery het onder die voorwendsel dat hulle bo-grond verkoop. “Toe die mans weg is, was ons twee maande-oue hondjie, Eugene, ook weg.” Visser het die boodskap van hul hondjie se verdwyning so ver laat versprei as Kaapstad deur middel van dierebeskermingsverenigings. Nadat ’n berig in die Paarl Post hieroor verskyn het, het Visser Vrydag ’n oproep ontvang vanuit Klein Drakensteinweg, Paarl-Oos, om haar in te lig dat die hond veilig in iemand se besit is. “’n Vrou het vertel dat ’n seun dieselfde aand van Eugene se verdwyning met die hondjie by hul huis aangekom het en gesê het dat hy die hond by drie mans gekoop het. “Eers toe sy die berig die volgende week in die Paarl Post lees, het sy besef dat dit ’n gesteelde hond is wat die seun gekoop het. “Ek het dadelik na die adres in Paarl-Oos gery en het in trane uitgebars toe ek agterkom dat dit wél Eugene is.” Nog ’n honde-eienaar, van Mbekweni, se husky is onlangs teruggevind nadat ’n foto in die Paarl Post geplaas is. Maar Dinsdag was behoorlik blou vir nog ’n gesin van die Paarl. Dino en Yvonne Aliquó, wat op die hoek van Rose- en Vercuielstraat woon, het hierdie dag ontdek dat hulle opregte swart spanjoel soos ’n groot speld verdwyn het. “Hy het buite ons hek rondgesnuffel toe een van ons bure gesien het hoe ’n man in ’n wit Fiat die hond in- laai. “Toe ons buurman vra hoekom hy dit doen, het die man gesê dat hy die hond raakgery het en hom dierehospitaal toe neem.” Die Aliquó’s het al die veeartse in die omgewing gekontak, maar niemand het hul hond gesien nie. Enigiemand wat hierdie spanjoel gewaar, kan die Aliquó’s skakel by 082-905-8535. * While one stolen dog has been returned to his rightful owners, another has been stolen.
More
News
|