Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Kinders lê haar na aan die hart

Kinders lê haar na aan die hart
 
2011-06-15

Devidean Moses

NÁ 40 jaar in die onderwys, lê kinders haar steeds na aan die hart. Daarom is dit vir Hendriena Rossouw juis kommerwekkend hoeveel ouers nie hul kinders se belange op die hart dra nie.

“Daar bestaan talle voorbeelde van ouers wat mede-verantwoordelik is vir hulle kinders se ondergang,” sê Rossouw, plaaslike kringspanbestuurder vir die Kaapse Wynland Onderwysdistrik, wat vandeesmaand die tuig neerlê.

Sy het ná 12 jaar as hoof van Hoër Meisieskool Paarl vir die afgelope 14 jaar ’n ogie gehou oor die skole in Agter-Paarl, Mbekweni, Wellington en Hermon en ook later Gouda en Saron.

Sy het toe besef hoeveel kinders vir die onderwysstelsel verlore gaan, en dat dit dikwels gewyt kan word aan swak ondersteuning by die huis.

Vir haar was die 26 jaar wat sy kon klas gee en met jong mense kon werk, asook die talle geleenthede wat sy gehad het om werkswinkels en aanbiedings vir volwassenes aan te bied, ’n besonderse belewenis.

Ook was sy bevoorreg om die afgelope drie jaar met besondere kringspanlede saam te werk.

“Hulle algehele toegewydheid aan en doelgerigtheid vir die verbetering van onderwys in ons land is prysenswaardig.”

Rossouw is gebore in Grahamstad waar sy haar skoolloopbaan tot in standerd 8 voltooi en aan die Hoërskool Andrew Rabie in Port Elizabeth gematrikuleer het.

Sy het haar studies voortgesit aan die Universiteit van Stellenbosch waar sy ’n B.Sc. Huishoudkunde-graad en onderwysdiploma behaal het en later ’n B.Ed en M.Ed-graad in leierskap en bestuur verwerf het.

Sy het haar onderwysloopbaan by Hoërskool PJ Olivier begin en daarna onderwys gegee by Gill Kollege en Hoër Volkskool. Later was sy vise-hoof aan die Hoër Tegniese Skool te George.

Vir Hendriena was dit nog altyd noodsaaklik om goeie gehalte onderwys aan leerders te lewer.

Aan die begin van 1985 word sy hoof van Hoër Meisieskool Paarl, waar sy vir 12 jaar betrokke was, ’n hoogtepunt in haar lewe.

“Dis so lekker as jy oudskoliere oral oor die land raakloop en hulle steeds moeite doen om jou op te soek,” sê sy.

So sal sy in baie se harte altyd hul juffrou bly.

In Julie 1997 word sy kringbestuurder by die destydse Paarl-Areakantoor wat later deel uitmaak van die Weskus-Wynland OBOS.

Nadat ’n nuwe transformasie-model vir die Wes-Kaapse Onderwysdepartement op die tafel geplaas is, word sy in Julie 2008 aangestel as kringspanbestuurder, met ’n kringspan wat gewissel het van 9 tot 10 kringspanlede om haar by te staan.

Sy het gekies om die afgelope 14 jaar nie vas te val in administratiewe rompslomp nie, maar het steeds op ’n byna daaglikse basis betrokke gebly by die leerders en opvoeders.

Nou dat sy gaan aftree gaan sy haarself meer beskikbaar stel om gratis diens te doen aan kerke en gemeenskappe as hulle haar hulp aanvra.

Sy gaan nou haar tyd aan haar moeder van 95 jaar spandeer, haar naaldwerk en skilderwerk, asook familie en vriende.

Hierdie knap vrou glo dat goeie dienslewering behels onder andere die nakoming van spertye en spoedige reaksie op navrae, maar “nakoming kan nie omgee vervang nie”.

Hendriena beskou haarself as baie bevoorreg om vir 40 jaar te kon lei in die onderwys. Sy is dankbaar vir die duisende leerders, opvoeders, ouers, koshuis- en administratiewe personeel wat toegelaat het dat sy hulle ruimtes kon betree en vir die onuitwisbare indruk wat hulle op haar lewe gemaak het.

Sy bedank ook haar ouers, familie en vriende wat haar die afgelope jare bygestaan en ondersteun het.

Sy is nederig dankbaar teenoor haar Skepper wat haar elke dag geseën het met die beste van Sy gawes.

“Dis onverdiende goedheid en genade.”

* An experienced local personality in education, is retiring after 40 years.




More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za