Kitsboetes beoog vir onwettige bouwerk
2011-06-30
Anne Kruger
DIE onwettige oprigting van ’n strooidak-lapa by ’n huis in Berg-en-Dal het tot groot onmin gelei - soveel so dat die kwessie op die jongste raadsvergadering van Drakenstein Munisipaliteit bespreek is. Want ná ses jaar het die Munisipaliteit nog nie daarin geslaag om die lapa wat op die grens van ’n erf in Argylstraat gebou is, te laat afbreek nie, tot die ontsteltenis van die buurman wat meen dit is ’n brandgevaar. Raadslid Johannes Rademan het ’n formele navraag oor die sloerdery met sloping van die lapa, wat in 2006 opgerig is, ingedien by verlede week se raadsvergadering. Die buurman het reeds in November 2008 skriftelik beswaar gemaak teen die bousel. Volgens amptenare is die saak twee jaar gelede aan die Raad se prokureurs oorhandig, toe die eienaar, G Smith, nie gereageer het op opdragte om die lapa te verwyder nie. ’n Slopingsaansoek sal uiteindelik op 19 Julie voor die hof dien. Hierdie uitgerekte proses, wat byna twee jaar geduur het, het die Munisipaliteit nou genoop om ’n kitsboetestelsel te oorweeg, wat eersdaags geïmplimenteer sal word. Met hierdie nuwe stelsel sal mense wat bouwerk verrig sonder goedgekeurde bouplanne, op ’n daaglikse basis beboet word ná kennisgewing om te staak, totdat bouwerk wel gestaak word. Daar is ook met staatsaanklaers en landdroste binne die gebied ooreengekom op ’n vinniger en meer effektiewe proses vir die aanspreek van onwettige bouwerk en grondgebruik, asook erfenisaangeleenthede.
More
News
|