Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Waar is Boel?

Waar is Boel?
 
2011-06-30

Lise Beyers

DIE lot van ’n erg verwaarloosde boerboel is onbekend, nadat hierdie hond onlangs vanuit sy woning in Mooivleistraat, Weltevrede, verdwyn het.

En hierdie verdagte verdwyning kom nadat ’n barmhartige samaritaan van hierdie straat tot die hond se redding gekom het.

Natasja Adonis het onlangs in die verby-ry gesien dat hierdie boerboel by Mooivleistraat 28 met ’n ketting van skaars een meter lank aan ’n boom vasgebind is.

Wat nog meer kommerwekkend was, was die uitgeteerde toestand van die hond.

“Behalwe dat die hond aan ’n baie kort ketting vasgemaak is, was hy baie maer. Ek het besoek afgelê by die woning om die hond se ellendige kondisie aan te spreek.

“Die vrou het gesê dat die hond nie aan hulle behoort nie en by hulle gelaat is toe hul vorige bure getrek het. Sy het gesê dat haar seun Shilo Beukes na die hond omsien.”

Adonis het gesê dat die vrou aan haar erken het dat hulle nie die hond wou hê nie en dat hulle boonop nie geld het om die hond te voer nie. Die hond, ’n wyfie, het glo net skille gekry.

“Ek het haar gevra of ek self vir die hond kos kan bring en om ’n nuwe eienaar vir die hond te soek. Sy het ingestem en my onbeperkte toegang tot die erf gegee.”

Hierna het Adonis twee keer per dag die hond besoek en gevoer. Sy het ook foto’s van die hond geneem.

Maar kort hierna het die hond een aand spoorloos verdwyn en selfs tydens polisieteenwoordigheid, kon Beukes nie vir hulle sê waar die hond is nie.

Dit het egter nie daar geëindig nie.

Volgens Adonis het Beukes na haar huis toe gekom en haar gevloek en klippe op haar dak gegooi.

Sy het dus ’n klag van dieremishandeling by die Wellington polisiestasie hangig gemaak teen al die inwoners van Mooivleistraat 28.

“Ek kan nie net terugsit en kyk hoe ’n dier so blatant mishandel word nie. Die grootheid van ’n nasie en sy morele vooruitgang kan bepaal word op die wyse waarop hulle hul diere behandel.”

Beukes het by navraag oor die hond gesê dat hy die hond aan ’n vriend gegee het wat in Mitchellsplein woon. Hierna het die hond uit die erf ontsnap en is nie weer gesien nie. Hy het ontken dat die hond mishandel was.

Die saak word verder ondersoek deur die Wellington polisie.

’n Woordvoerder van Wellington Dierebeskermingsvereniging, Colleen McQueen, het gesê dat in sulke gevalle waar enige dieremishandeling vermoed word, die DBV onmiddellik gekontak moet word.

“Ons het die mag om dadelik hierdie diere vanaf ’n perseel te verwyder.”

* A starving dog has disappeared without a trace, after a good samaritan tried to come to the animal’s assistance.




More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za