Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Langafstandtroue via Skype

Langafstandtroue via Skype
 
2011-06-30

Edwina Drude

’n PAARTJIE het Saterdag geskiedenis gemaak toe hul Saterdag via Skype, ’n bekende internetkommunikasie-netwerk, getrou het.

Dit is die eerste keer in Suid-Afrika dat die leraar op die een kontinent en die paartjie op die ander die ‘ja’-woord aan mekaar gegee het.

Aangesien haar ouers woonagtig in Wellington is, het Margaret Keyser, ’n oud-Wellingtonner en die eerste vroulike teologiestudent by UWK, en Jim Ault, ’n filmmaker van Massachusetts, gevoel haar familie moes ook deel hê aan hul groot dag.

Margaret is al 13 jaar in Connecticut in Amerika waar sy as konflik-onderhandelaar werk. Sy en Jim het mekaar by ’n begrafnis ontmoet en ná twee jaar het hulle besluit om te trou.

Margaret se vriend en mentor by die Universiteit van Wes-Kaapland, ds Reggie Boesak van Montagu, het hulle Saterdag om 20:00 in Suid-Afrika in die eg verbind (dit was toe 14:00 in Massachusetts).

Die diens het plaasgevind by CPUT se Wellington-kampus op ’n grootskerm, met die bruid se familie teenwoordig. Ault se familie was teenwoordig by die bruidspaar se huis in die dorp Northampton, Massachusetts en albei groepe kon mekaar op hul skerms sien.

Met behulp van Skype is die troubeloftes gedoen en so vinnig soos die internet dit toelaat, kom daar ’n “I do” vanaf duisende kilometers ver.

Talle grappies is ook via Skype gedeel en die twee gehore het lekker saamgelag.

Margaret se ouers, Nicholas Keyser (84) en sy vrou Sophia (81), het hul seën oor die huwelik uitgespreek in Afrikaans en toe vir haar gesing.

“Dit was baie wonderlik,” lag Margaret toe sy gevra word hoe dit gevoel het om in Afrikaans seënwense van haar ouers te ontvang. Dit was ook die eerste keer dat Keyser se ouers en Ault se ma mekaar “ontmoet” het.

Margaret het maar twee dae voor die troue verneem van die Skype-planne.

Sy was in trane toe sy haar familie sien en het vir hulle gewaai.

“Dit het werklik gevoel asof ek daar is en hulle hier by my,” het Margaret, ’n oud-leerder van Noorder-Paarl Sekondêr, gesê.

Haar familie was vreeslik opgewonde om hierdie dag met haar te kon deel en het self feesvieringe gehou in Wellington.

Hul kon haar nie ’n drukkie gee nie, maar het wel gelukwense met die paartjie gedeel.

“Ons het die gaste beperk tot 30 omdat ons die diens graag intiem wou hou,” het ’n familielid gesê.

“Die liefde is wedersyds uitgestraal ten spyte van die afstand.”

* A Wellington woman living in the USA got married on Skype, with a local minister presiding.




More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za