Skreeu-kleure pla Wellington
2011-07-07
Johan Nel
WELLINGTON se inwoners is besig om keelvol te raak vir sakeondernemings wat geboue en tamaai advertensietekens in skreeu-helder kleure oral in die middedorp verf. “Nie een van hierdie ondernemings het die regte prosedure gevolg deur planne aan die munisipaliteit voor te lę voordat hulle met hierdie helderkleurige geboue en advertensieborde vorendag gekom het nie,” sę Trevor Cleevely, voorsitter van Wellington se estetiese komitee. Volgens hom doen die estetiese komitee alles in sy vermoë om die voorkoms van veral die middedorp so stylvol as moontlik te hou. Daarom word daar swaar geleun op die munisipale verordeninge wat bepaal dat sakegeboue wat nuwe advertensietekens wil oprig of wat die voorkoms van hul persele wil verander, eers planne aan die munisipaliteit moet voorlę om te wys presies wat hulle beoog om te doen. Die estetiese en verfraaiingskomitees kyk baie nougeset na hierdie planne en sal nie huiwer om, indien nodig, veranderinge voor te stel om te verseker dat die karakter van die dorp nie deur oormatige groot en onaantreklike reklame-pogings ontsier word nie. In die afgelope drie maande is minstens twee groot ondernemings op die dorp deur die estetiese komitee oorreed om reklameborde te verander en om die kleure waarin hulle hul geboue geverf het, drasties te verander. “Die blote feit dat tientalle ondernemings sonder die nodige planne hulle geboue verander en in helder kleure verf, is bewys dat hulle hul nie steur aan die verordeninge waardeur daar gepoog word om die voorkoms van die dorp esteties aanvaarbaar te hou nie. “Hierdie gebrek aan kennis kan sakeondernemings duur te staan kom omdat hulle deur die munisipale boubeheer-afdeling gedwing kan word om met ander, meer aanvaarbare, planne vorendag te kom nadat hulle reeds hulle geboue teen hoë koste geverf of verander het.” Volgens die estetiese en verfraaiingskomitees van die dorp is wit of skakerings van wit die enigste kleure wat gaan verseker dat die rustige, ouwęreldse karakter van die middedorp bewaar sal bly. Daar sal in alle waarskynlikheid binnekort opgetree word teen sake-ondernemings op die dorp wat onlangs geboue in die midde-dorp blouselblou en skelrooi geverf het. * The aesthetics committee of Wellington has warned that local businesses which transgress regulations on signage and colour could face action by the Municipality.
More
News
|