Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Jare se lekkerte op Bergrivier

Jare se lekkerte op Bergrivier
 
2011-07-07

Lise Beyers

DIE Bergrivier-marathon is beslis die moeilikste, maar ook die lekkerste kanomarathon in die land.

So sê die gesoute plaaslike roeier, Giel van Deventer (61), op die vooraand van sy 42ste marathon.

Vanjaar vind die Bergrivier-marathon, wat volgende Woensdag afskop, vir die 50ste keer plaas en Van Deventer dink met heimwee terug aan sy jarelange betrokkenheid, asook met groot plesier.

“Toe die eerste marathon in 1952 plaasgevind het, het ek as 12-jarige op die Breërivier begin roei in Swellendam. “En toe hierdie gogga my behoorlik gebyt het, was dit my droom om eendag aan die Bergrivier-kanomarathon deel te neem.”

Nadat hy drie keer ingeskryf het en iets elke keer voorgeval het, het hy uiteindelik in 1969 die Bergrivier betree en sedertdien het hy nog nooit teruggekyk nie.

“In die vroeë jare was ons maar tussen 30 en 40 roeiers. Alles was baie eenvoudig en ons het almal saam in plaasskure of op solders geslaap tussen Paarl en Velddrif.

“Ons maaltye is voorsien deur plaasvroue wat deel was van die VLV of kerkorganisasies.

“Dit was baie gesellig en ons was soos een groot familie.”

Van Deventer voeg by dat selfs toe die kompetisie gegroei het tot ’n magtige 350 deelnemers, is dit steeds gekenmerk deur die kameraderie wat hand-aan-hand daarmee gepaard gaan.

“Almal help mekaar en hou ’n ogie oop vir hul mede-vaarders se veiligheid.”

Die noodlot het wel al twee keer die wedvaart getref, toe ’n deelnemer in 1983 verdrink het en in 2003 toe nog een dood is weens ’n hartaanval.

Hy dink ook aan snaakse voorvalle soos in 1985 toe die voorste groep roeiers verdwaal het en twee ure teruggeval het.

“Die rivier was daardie jaar in vloed en naby Hopefield het hierdie groep roeiers in die Soutrivier beland, in plaas van om die Bergrivier te volg.

“Eers nadat hulle twee uur lank stroom-op geroei het, het hulle hul fout besef. Van hulle het teruggedraai en die ander het uitgeklim en begin stap met kano’s en al.

“Die drywer van ’n verbygaande trein het gestop, hulle opgelaai en weer afgelaai by Bergrivierstasie om weer op die Bergrivier te klim.”

Van Deventer het deur die jare verskeie kere deelgeneem aan uitmergelende kanomarathons soos die Breërivier- Visrivier- en Oranjeriviermarathons, maar steeds bly die Bergrivier vir hom die moeilikste.

“Die Berg is ’n dier op sy eie. Hy is die enigste kanomarathon wat oor vier dae gehou word en die skofte is baie lank.

“Die weersomstandighede is dikwels haglik, met swaar reëns en sterk winde. Dit toets as’t ware die atleet tot sy uiterste.”

En wat van die Duzi-kanomarathon?

“Nee wat,” antwoord hy vinnig, “daar word meer met die kano gedraf as geroei. ’n Kano is gemaak om te roei en nie om mee te hardloop nie.”

En is daar ’n einde in sig aan Van Deventer se dekades van Bergrivier-ervarings.

“Nee wat. Ek geniet hierdie marathon so baie. Deesdae vat ek dit baie rustig en ek maak hom maklik klaar.

“Maar die dag sal seker kom wanneer dit vir my swaar raak en dan sal ek my roeispaan ophang.”

Maar tot dan toe glo Van Deventer dat daar nog jare van lekkerte sal wees op die Bergrivier.

* Local canoeist, Giel van Deventer, will be tackling the Berg Rive Canoe Marathon for the 42nd time next week.




More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za