ATKV Wellington toer na Sutherland
2011-07-28
UITEINDELIK was dit weer tyd om koud te kry in Sutherland in die Noord-Kaap toe die ATKV Wellington onlangs na Sutherland gaan toer het. Willie Koorts van RSG Sterre en Planete faam het langs die pad meer vertel van die omgewing, terwyl hulle na Matjiesfontein getoer het. Daar het hulle ver in die verlede ingestap met die Boere-oorlog en klomp eerstes in Suid-Afrika wat in Matjiesfontein gebeur het, byvoorbeeld die eerste spoeltoilet en die eerste krieketwedstryd. Sutherland se hotel met Koos as gasheer en talle gastehuise het die besoekers met warmte ontvang. Op Sutherland het hulle donkiekar gery en die ongelooflike natuurskoon van nader bewonder. Gewapen met serpe, hoede en handskoene het die groep die tog na die groot SALT-teleskoop aangedurf met Willie as gids. Die sterrehemel vertel soveel stories van die verlede, jy moes net luister met jou oë na die hemel en met jou ore na Willie om jou te laat besef jy is nie eens so groot soos ’n sandkorreltjie in die heelal nie. “Die wind wat lui is, het deur ons gewaai en nie om ons nie en jy het koue ervaar op plekke wat jy nie eers geweet het jy het plekke nie,” vertel ’n toerlid. Die volgende oggend het hulle die dorp besigtig en die sterrewag van binne gaan bekyk - ’n grootse ondervinding wat niemand sal vergeet nie. Wellington ATKV-tak sit nie stil nie - die volgende toer is op 3 September om die Weskus se blommeprag te besigtig. Indien jy belang stel, kontak vir Hentas Kotze by 083 309 7411 om jou naam so spoedig moontlik op die lys te kry vir die prettoer.
More
News
|