Swaksiende atleet presteer
2011-08-04
DIE swaksiende Wellingtonse atleet Denzwil Maans (17) volg in die voetspore van die Suid-Afrikaanse paralimpiese atleet Hilton Langenhoven, nadat hy met drie medaljes van ’n atletiekbyeenkoms in Amerika teruggekeer het. Dié prestasie kom nadat hy maar ’n skrale drie jaar gelede (in 2008) aan atletiek begin deelneem het. Hilton, ’n leerder by die Pionierskool op Worcester, het in 2009 aan sy eerste nasionale atletiekbyeenkoms vir persone met siggestremdheid deelgeneem. Tot sy verbasing is hy gekies om Suid-Afrika by die 2010 Spele van die Internasionale Blinde Sportassosiasie (IBSA) in Colorado Springs in die VSA te verteenwoordig. Hier het Denzwil ’n bronsmedalje vir verspring verower. By vanjaar se spele het hy met drie medaljes weggeloop – goud in die 100 m-, silwer in die 200 m-wedloop en brons in verspring. Denzwil is met erg swaksiendheid gebore en neem deel aan die T12-afdeling (waar erg swaksiendes met of sonder ’n gids kan hardloop). Voor hy in 2006 by die Pionierskool vir siggestremdes op Worcester aangesluit het, het Denzwil nooit gedink dat hy eendag sport sou kon beoefen nie. Nou is dié graad 10-leerder deel van die ontwikkelingspan wat moontlik die land in 2016 by die paralimpiese spele sal verteenwoordig. “Dit is my grootste droom,” sê Denzwil. Die Pionierskool se sportkoördineerder, Ryk van Schoor, sê dat hulle baie trots op Denzwil is vir sy harde werk en toewyding. Denzwil oefen twee keer per week op Stellenbosch saam met die paralimpiese atleet Fanie van der Merwe en twee keer per week by die gimnasium. Hy is in die departement van sport en rekreasie se residensiële program opgeneem wat atlete ondersteun met onder meer afrigting en mediese toetsing. Denzwil sê hy het nie eens geweet hy is ’n goeie atleet nie. Hy het al hoe vinniger gehardloop omdat hy net geweet het hy kon. “Van toe af is daar nie keer aan hom nie,” sê Van Schoor.
More
News
|