Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Paarliet is SA se top skoolhoof

Paarliet is SA se top skoolhoof
 
2005-10-27


WAT waarskynlik die deurslag gegee het, is dat baie van ons kinders uit ernstig sosiaal-benadeelde agtergronde kom en nogtans sulke hoogtes bereik.

Só sê Dennis von Willingh (50) skoolhoof van New Orleans Sekondêr nadat hy verlede week aangewys is as 2005 se nasionale Skoolhoof van die Jaar by die Nasionale Onderwys Toekennings in Pretoria.

Von Willingh het die Wes-Kaap verteenwoordig, nadat hy verlede maand die provinsiale toekenning vir Uitmuntendheid in Sekondêre Skool Leierskap ontvang het.

Die hoofspreker by die funksie was President Thabo Mbeki, wat aan die woord gestel is deur die nasonale Minister van Opvoeding, Naledi Pandor.

Onder die eregaste was die adjunk-minister van Opvoeding, Envor Surty, die direkteur-generaal van Opvoeding, Duncan Hindle, die Wes-Kaapse minister van Opvoeding, Cameron Dugmore, en plaaslike kringinspekteur Ronald Swarts.

Von Willingh is in 1994 aangestel as skoolhoof by New Orleans, dien as voorsitter van die Paarlvallei Skoolhoofdevereniging en is deel van die School Enhancement for Educational Development Programme, wat ten doel het om die WKOD te herstruktureer.

Von Willingh het sy studies in 1976 aan die Universiteit van Wes-Kaapland begin en in 1978 sy loopbaan begin by Paulus Joubert Sekondêr.

Hy bly studeer en behaal sy B.Ed. graad in 1982 en in 1987 word hy van New Orleans Sekondêr gesekondeer na Athlone-kollege as lektor. Hy weier egter ’n permanente pos ten gunste van sy eerste liefde - hoërskoolonderwys.

In 1992 skryf hy voltyds by Maties in vir ’n meestersgraad in onderwys, wat hy in Mei 1993 cum laude slaag.

Die titel van sy tesis was ‘Lewensvaardigheidseise vir ’n multikulturele samelewing en die bevrediging daarvan deur die skool’.

“Hierdeur wou ek rolspelers in die onderwys oortuig dat die skool se verantwoordelikheid veel verder strek as die oordra van kennis en goeie voornemens.”

Sy navorsing het ook gekyk na hoeveel en op watter maniere die skool kan bydra tot die aanleer van sulke lewensvaardighede.

Uit sy motivering aan die beoordelaars van die kompetisie, is dit duidelik dat Von Willingh hierdie verpligting van die skool ernstig opneem.

Verder sê hy oor leierskap: “Ek glo dat ’n leier net ander kan inspireer, bemagtig en verryk as daardie persoon die kennis eerstehands opgedoen het en poog om sy/haar horisonne te verbreed.

“Ek moet egter eerlik wees en sê dat al my prestasies nie veel sal beteken as ek nie my ondervinding, kennis, inligting en wat nog meer op ’n strukturele wyse na my personeel kanaliseer nie.”

Von Willingh sê hoewel die meeste van die leerders uit baie arm sosio-ekonomiese omstandighede kom, strewe die personeel na uitmuntendheid in onderwys en opheffing van die leerders.

“Bewys van hierdie sukses is ons matriekslaagsyfer wat nooit onder 90% is nie, en al so hoog as 98,1% was.”

Von Willingh het ook sy dank teenoor sy gesin uitgespreek vir hul volgehoue aanmoeding en onderskraging.

“My personeel en gesin se onderskraging het my gehelp om dinge te maak werk vir New Orleans onder moeilike omstandighede.

“Ek hoop hierdie prestasie sal ook die leerders aanmoedig om uit te blink in alles wat hulle doen.”

* A Paarlite is the SA school principal of the year.



More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za